Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Swiatek ‘oorweldig’ ná Ope-sege

Om ’n eerste Grand Slam-titel te verower is veronderstel om ’n veeleisende taak te wees, maar die 19-jarige Iga Swiatek het Saterdag die kroon op ’n onbeskryflike twee weke gespan toe sy die Franse Ope beklink het in 6-4, 6-1 teen Sofia Kenin.

Die Pool Iga Swiatek (19) spog met die trofee by die Franse Ope. Foto: Getty Images

Swiatek het nog ’n waaghalsige vertoning van wenhoue gelewer om Pole se eerste Grand Slam-enkelspelkampioen te word.

Sy het net kortliks swaar getrek toe sy ’n 3-0 voorsprong laat glip het, maar nadat sy ’n taai eerste stel gewen het, het sy baljaar tot haar sege.

Die laaste keer dat ’n vrou só ’n oortuigende oorwinning in die eindstryd van die Franse Ope behaal het, was in 1988 toe die Duitse legende Steffi Graf net 20 potte in twee weke verloor het.

Kenin, die Australiese Ope-kampioen, is self nog net 21. Sy het behandeling nodig gehad in die tweede stel en met haar terugkeer tot die baan was Swiatek absoluut genadeloos. Die Pool het daarna net drie verloor, voordat sy die titel met ’n onstuitbare voorarmhou beklink het – haar 25ste wenhou van die wedstryd.

Met dié oorwinning bevind Swiatek, wat aan die begin van die toernooi die 54ste plek op die wêreldranglys beklee het, haar skielik nou onder die voorste 20. Sy is die jongste vrou wat glorie by die Franse Ope proe sedert Monica Seles in 1992 en die eerste wat dit doen sonder om ’n stel te verloor sedert Justine Henin in 2007.

“Ek is oorweldig,” het Swiatek gesê.

“Twee jaar gelede het ek ’n junior Grand Slam gewen en nou is ek hier. Dit voel soos ’n baie kort tyd.”

“Dit moes so wees. Nog ’n ‘underdog’ het ’n Grand Slam gewen in tennis. Dit gebeur nou so gereeld dat dit eintlik mal is.”

Swiatek sal nie sommer weer ’n toernooi betree as een van die nagedagtes nie met vroue-tennis wat nou ’n merkwaardige paar groentjies het wat besig is om hul merk te maak. Dit sluit in die 2019 Amerikaanse Ope-kampioen, Bianca Andreescu (20) en Coco Gauff (16).

Kenin hoort self op daardie lys, maar dit was ’n jammerte dat sy nie dieselfde peil kon wys waarmee sy vir Garbine Muguruza geklop het om die Australiese Ope in Februarie te wen nie.

“Ek is teleurgesteld en ontsteld,” het sy ná haar nederlaag gesê.

“Sy (Swiatek) het goed gespeel en is tans aan die brand. Daar was ’n paar dinge wat nie in my guns verloop het in die eerste stel nie en dan was my been ook nie in die beste toestand nie,” het sy bygevoeg. – Reuters

Meer oor:  Iga Swiatek  |  Sofia Kenin  |  Roland Garros  |  Franse Ope
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.