Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
'Oorwinning gaan my lewe verander'

Toe die 19-jarige Iga Swiatek Saterdagmiddag met die Franse Ope se Suzanne Lenglen-trofee stewig onder haar arm sê sy het nie verwag om die eienaar daarvan te word nie, het sy die hele tenniswêreld se gevoel opgesom.

Iga Swiatek glimlag Sondag breed met die Suzanne Lenglen-trofee wat sy verower het deur net 28 potte in sewe wedstryde te verloor. Foto: Getty Images

Hande op julle almal wat twee weke gelede met oortuiging voorspel het dat hierdie Poolse tiener die koningin van Roland Garros sou wees.

Met geen hande in die lug nie, vertel dit die verhaal van hierdie sprokie.

Haar oortuigende oorwinning van 6-4, 6-1 oor die vierde gekeurde Sofia Kenin van Amerika in die eindstryd is die kersie op die koek van ’n toernooi waarin sy elke teenstander gestoomroller het.

Sy het nie net die eerste Poolse speler geword wat ’n Grand Slam-titel verower nie, maar is ook nou die jongste Franse Ope-kampioen sedert Monica Seles in 1992 as 18-jarige.

Ek weet my spel is nog nie perfek ontwikkel nie. Ek sal moet leer om bestendiger te wees.

Aan die begin van die toernooi was Swiatek nommer 54 op die wêreldranglys en het sy nog gewik en weeg tussen ’n loopbaan in tennis en of sy ’n universiteitsgraad moet gaan verwerf.

Daardie besluit is nou vir haar geneem.

Dit het nog nooit gebeur dat iemand so laag op die wêreldranglys die Franse Ope kon verower nie.

“Dit is ’n ongelooflike gevoel. Dit gaan my lewe verander,” het sy die ooglopende verklaar.

“Ek het twee jaar laas ’n toespraak gelewer en weet nie wie om te bedank nie,” het sy duidelik nog in skok gesê.

Sy het darem gesê sy hoop haar kat het by die huis gekyk hoe Ounooi die tenniswêreld aan haar voete kry.

As ’n voormalige Wimbledon- junior kampioen word Swiatek wel gereken as ’n speler met ’n groot toekoms, maar vir hierdie uitgawe van die Franse Ope sou haar naam nie op die lippe gewees het as ’n aanspraakmaker nie.

Sy het boonop nog nooit eens op die WTA-toervlak kon seëvier nie en om dit so oortuigend in ’n Grand Slam-toernooi te doen, gaan die verstand te bowe.

“Ek weet my spel is nog nie perfek ontwikkel nie. Ek sal moet leer om bestendiger te wees. Dit is iets (bestendigheid) wat nie sommer op die vrouereeks gebeur nie.”

Sy het haar pa, Tomasz, bedank vir die rol wat hy in haar lewe speel. Hy was in 1988 ’n roeier in die Olimpiese Spele vir Pole.

Hy het eers van haar en haar suster, Agata, swemmers probeer maak, maar toe dit nie gewerk het nie, het hy hulle aangemoedig om tennis te begin speel. Glad nie ’n slegte besluit nie.

“Ek voel asof ek nou net geskiedenis gemaak het,” het die oorblufte Swiatek van haar sege gesê.

Inderdaad, Iga, inderdaad.

Meer oor:  Parys  |  Roland Garros  |  Tennis  |  Iga Swiatek  |  Franse Ope
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.