Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Talle slaggate vir topspelers in Aussie Ope

Roger Federer, die verdedigende Australiese Ope-kampioen, sal sy veldtog in vanjaar se toernooi teen die Oezbekistanse leeutemmer Denis Istomin begin.

Roger Federer, die verdedigende Australiese Ope-kampioen, was Donderdag in ’n ontspanne luim by die amptelike loting vir die jaar se eerste Grand Slam-toernooi in Melbourne. Foto: Reuters

Istomin het twee jaar gelede ’n yslike verrassing verskaf toe hy Novak Djokovic in die tweede ronde van dié Grand Slam-toernooi in vyf stelle uitgeskakel het.

Istomin se stryd teen Federer is een van talle slaggate vir topspelers wat Donderdag se amptelike loting in Melbourne opgelewer het.

Novak Djokovic het Donderdag maalvleis van Andy Murray gemaak in ’n oefenwedstryd. Foto: Getty Images

Indien Federer volgende week sy openingswedstryd en die daaropvolgende klompie kragmetings oorleef, kan hy moontlik in die vierde ronde teen die gevaarlike jong Griekse sensasie Stefanos Tsitsipas te staan kom.

Djokovic, die topgekeurde man in Melbourne, sal teen ’n kwalifiseerder (wat nog bepaal moet word) begin, maar kan in die tweede ronde teen die Fransman Jo-Wilfried Tsonga te staan kom.

Tsonga en Djokovic, wat mik na ’n rekord- sewende Australiese Ope-titel, het in die 2008-eindstryd teen mekaar te staan gekom.

As Djokovic die eerste ronde oorleef, kan hy moontlik in die kwarteindronde met Kei Nishikori van Japan kragte meet.

Die wêreld se nommer een het die vorige twee Grand Slam-toernooie (Wimbledon en die Amerikaanse Ope) gewen en het Donderdag gewys hy is vlymskerp toe hy Andy Murray in ’n oefenwedstryd met 6-1, 4-1 afgeransel het.

Die tweede gekeurde man in Australië, Rafael Nadal, begin sy toernooi teen die ongekeurde Aussie James Duckworth, maar ’n paar hoë hekkies kan daarna op hom wag.

Sou hy die vierde ronde haal, sal hy moontlik teen verlede jaar se semi-finalis Kyle Edmund (13de gekeur) te staan kom en kan hy daarna in die kwarteindronde met Suid-Afrika se Kevin Anderson kragte meet.

Anderson, vyfde gekeur vir die jaar se eerste Grand Slam-toernooi, spring weg met ’n eersteronde-stryd teen die Fransman Adrian Mannarino.

Kevin Anderson, Suid-Afrika se groot hoop in die Australiese Ope. Foto: Getty Images

Dié 30-jarige speler is tans 41ste op die wêreldranglys en het verlede jaar die derde ronde in Melbourne gehaal. Hy het ook so ver as die vierde ronde op Wimbledon gevorder in 2018, wat daarop wys dat hy nie onderskat kan word nie.

In die vroue-afdeling is dit ’n geval van déjà vu vir die topgekeurde Simona Halep wanneer sy in die eerste ronde teen Kaia Kanepi van Estland te staan kom. Kanepi het verlede jaar ’n reuse-opskudding veroorsaak toe sy Halep in die eerste ronde van die Amerikaanse Ope uitgeboender het.

Sou Halep dié moeilike openingswedstryd oorleef, gaan dinge nie makliker vir haar raak nie, want ’n potensiële ontmoeting met Serena Williams, 16de gekeur in Melbourne, wag in die vierde ronde op haar.

Williams se openingswedstryd is teen die onbesonge Duitser Tatjana Maria.

Angelique Kerber, die tweede gekeurde Duitser, begin haar toernooi teen Polona Hercog van Sloewenië. – Reuters, Sportredaksie, smh.com.au

Meer oor:  Kevin Anderson  |  Australiese Ope  |  Novak Djokovic  |  Tennis  |  Roger Federer  |  Grand Slam
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.