Die room van die tenniswêreld sal aan die einde van die maand in Adelaide aantree vir ’n vertoontoernooi om vir volgende maand se Australiese Ope op te warm.
Organiseerders van dié toernooi, wat by die Memorial Drive-sentrum aangebied sal word, het bevestig dat Ash Barty, Serena Williams, Novak Djokovic en Rafa Nadal onder die agt deelnemers sal tel.

Die 19-jarige Jannik Sinner gaan eersdaags kans kry om met van die wêreld se heel beste spelers kragte te meet in ’n vertoontoernooi in Adelaide. Foto: Getty Images
Die Amerikaanse Ope-wenners Dominic Thiem en Naomi Osaka, sowel as die wêreld se nr. 2-vrouespeler, Simona Halep, sal ook daar wees.
Die speler wat die agttal vir dié toernooi sal voltooi, is die jong Italiaanse sensasie Jannik Sinner (19).
Die vertoontoernooi, wat as “A Day at the Drive” bekend sal staan, sal op 29 Januarie plaasvind en ’n somer van tennis in Australië inlui.
Barty, die wêreld se nr. 1-vrouespeler, sal in Adelaide in haar eerste mededingende wedstryd sedert Februarie verlede jaar speel.
Die Australiese Ope begin op 8 Februarie en al die deelnemers aan dié toernooi is tans nog in kwarantyn. Die grootste gros spelers sonder in Melbourne af, maar die topspelers is na Adelaide gestuur vir hul kwarantyn sodat Melbourne se kwarantyn-kapasiteit nie oorskry word nie. – Reuters