Die Suid-Afrikaanse Davisbeker-tennisspan het ’n Grand Slam-kampioen as sy nuwe spankaptein aangestel.
Die voormalige Suid-Afrikaanse speler Christo van Rensburg, wat vyf jaar gelede ook sy naam in die hoed vir die pos gehad het, is die land se nuwe Davisbeker-kaptein.

Christo van Rensburg het in sy speeldae groot sukses as enkelspel- en dubbelspelspeler behaal en was veral ’n gedugte teenstander op Wimbledon se grasbane. Foto: Getty Images
Suid-Afrika se volgende kragmeting is eers in September in Amerika, waar Venezuela sy Groep II-teenstander sal wees.
Die dubbelspelspesialis Raven Klaasen is die onderkaptein.
Die 58-jarige Van Rensburg, wat deesdae in Austin, Texas, bly, neem die leisels by nog ’n voormalige Suid-Afrikaanse speler, Marcos Ondruska, wat ná vyf jaar uit dié pos gaan tree.
“Ek is baie opgewonde om die kennis wat ek oor al die jare opgedoen het met die nuwe generasie van spelers te kan deel,” sê Van Rensburg in ’n verklaring van Tennis Suid-Afrika (TSA).
Hy sê dit gaan spesiaal vir hom wees om dit te kan doen saam met twee groot vriende van hom, Klaasen en Jeff Coetzee, TSA se direkteur van tennis.
Van Rensburg het Suid-Afrika gedurende sy speeldae van 1983 tot 1997 in die Davisbeker-kompetisie en op die Olimpiese Spele (in 1992 in Barcelona) verteenwoordig. Hy het in 1985 saam met Amerika se Paul Annacone die dubbelspeltitel by die Australiese Ope gewen.
Van Rensburg het in die enkelspel tot 19de op die wêreldranglys gevorder. Hy het in sy loopbaan oorwinnings oor grotes van die spel soos Ivan Lendl, Jimmy Connors, John McEnroe, Boris Becker, Pat Rafter en Pete Sampras behaal. Hy is een van slegs twee spelers wat Sampras in skoon stelle op Wimbledon kon klop.
Van Rensburg was ná sy speeldae onder meer die afrigter van spelers soos Michael Chang, Justin Gimelstob, David Nainkin en Grant Stafford.
TSA sê Van Rensburg moet ook ’n ogie in Amerika hou oor Suid-Afrika se toekomstige spelers wat daar kollege-tennis speel. Philip Henning (20) van Georgia het reeds sy Davisbeker-buiging vir Suid-Afrika gemaak.