Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Dié tennisspelers se beursies leeg

Terwyl die tenniswêreld se rykste spelers geld skenk in die stryd teen Covid-19, is daar ander wat swaarkry noudat toernooie opgeskort is.

Die Serwiër Novak Djokovic het verlede week €1 miljoen (sowat R19,8 miljoen) geskenk vir die aankoop van mediese toerusting vir Serwiërs.

Rafael Nadal het Spaanse sportlui gevra om hom te help om €11 miljoen (sowat R217 miljoen) in te samel.

Roger Federer en sy vrou, Mirka, het een miljoen Switserse frank bewillig vir kwesbare gesinne in sy vaderland, Switserland.

In kontras het Sofia Shapatava van Georgië ’n petisie begin dat die Internasionale Tennisfederasie (ITF) laer gekeurde spelers moet help.

Sofia Shapatava van Georgië sê sy sukkel om kop bo water te hou terwyl daar geen tennistoernooie is nie. Foto: Getty Images

Sy is 375ste op die vroueranglys.

“Nie baie spelers sal in staat wees om hulself nou te onderhou en dalk dan weer ná drie maande te begin speel nie,” sê die 31-jarige speler.

Sy het reeds 1 350 handtekeninge op haar aanlyn petisie.

Die ATP en die WTA, wat onderskeidelik die mans- en vrouereekse bestuur, het verlede maand alle toernooie tot 7 Junie opgeskort.

Spelers het die tyd by die huis gebruik om hul nuwe oefenprogramme, kooksessies of dansvaardighede op sosiale media te deel.

Terwyl tennis ’n winsgewende sport vir die topspelers is, sukkel diegene wat in die laervlak-reekse speel om kop bo water te hou.

Daar is in 2018 bevind die laagste gekeurdes is ontvankliker vir moontlike korrupsie omdat hulle te min uit hul tennis verdien.

Net sowat 350 spelers verdien genoeg om hul uitgawes te dek.

Die WTA en ATP het by navraag gesê hulle werk hard om spelers by te staan.

* Craig Tiley, die uitvoerende hoof van Tennis Australië, het intussen gesê die Covid-19-pandemie kan die hele tenniskalender in die slag laat bly.

“Ek dink dit gaan moeilik vir tennis wees om hierna weer op die been te kom,” het Tiley aan The Sydney Morning Herald en The Age gesê.

“Tennis maak staat op reise wêreldwyd en dié reise is laaste ding wat na normaal sal terugkeer.

“Sportsoorte met ’n plaaslike fokus is in ’n sterker posisie.”

Die Australiese Ope, wat in Januarie beslis is, het die pandemie vrygespring.

Die Franse Ope, die kleibaan-major, is egter van Mei na September geskuif en Wimbledon is vir die eerste keer sedert die Tweede Wêreldoorlog gekanselleer. – Reuters

Meer oor:  Itf  |  Koronavirus  |  Tennis  |  Petisie  |  Wta  |  Atp
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.