Die eerste groep tennisspelers, -afrigters en -beamptes het hul Covid-19-kwarantyn Donderdagoggend (SA tyd) verlaat nadat hulle die afgelope 14 dae voor volgende maand se Australiese Ope in ’n bioveiligheidsborrel in Melbourne deurgebring het.

Rafa Nadal waai van sy balkon af, waar hy sy kwarantyn in Australië deurgebring het. Hy sal Vrydag terug op die tennisbaan baan. Foto: Reuters
Die Victoria-regering het in ’n verklaring gesê dat daar geen nuwe positiewe toetse onder die groep van 960 was nie en dat daar tans slegs vyf aktiewe Covid-19-gevalle is.
Spanje se Paula Badosa was die eerste speler wat bekend gemaak het dat sy die koronavirus onder lede het. Nadat sy op die sewende dag van haar kwarantyn positief getoets is, is sy verlede Donderdag na ’n “gesondheidshotel” verskuif, waar sy nóg twee weke in afsondering moet deurbring.
Tennis-aksie Doer Onder begin intussen Vrydag in Adelaide, waar agt van die wêreld se beste spelers in ’n eendaagse vertoontoernooi in aksie gaan wees.
Novak Djokovic, Rafa Nadal, Serena Williams en Simona Halep tel onder die groot name wat gaan opwarm vir die jaar se eerste Grand Slam-toernooi, wat op 8 Februarie in Melbourne begin. – Reuters, Sportredaksie