Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Oostenryk se Dominic Thiem: 4 en vlam

Sy eerste Grand Slam-eindstryd was ’n driestel-warrelwind waarin hy nooit ’n wenkans gehad het nie. Die tweede ’n viersteller met ’n klein bietjie meer rede tot hoop. En die derde ’n vyfstel-marathon wat hy netsowel kon gewen het.

Dominic Thiem ná sy half-eindsege oor Daniil Medvedev.

As Dominic Thiem se vertonings op tennis se heel grootste verhoog aanhou om lineêr te verbeter, sal hy vannag in New York uiteindelik die eksklusiewe klub van Grand Slam-kampioene betree.

Sy twee eindstryd-nederlae teen Rafael Nadal by Roland Garros en die hartverskeurende Aussie-teleurstelling van Januarie teen Novak Djokovic sal in die boksie vir “lesse geleer” weggepak word, en Thiem sal baai in die verwesenliking van sy grootste droom.

Maar dat dit vierde keer skeepsreg sal wees, is geen gegewe nie. Nie net staan die Duitser Alexander Zverev – oor wie al sedert sy tienerjare lofliedere gesing word – breed in Thiem se pad nie, maar ook ’n seer Achilles-hiel.

Gelukkig het ek my beste tennis vir die einde van daardie stelle gehou.
Thiem

Die 27-jarige Thiem moes nie net Vrydag in die halfeindronde die aansienlike vermoëns van die Rus Daniil Medvedev te bowe kom nie, maar ook ’n beseerde hakskeen.

Dat hy in drie stelle kon seëvier, is verbysterend. In sowel die tweede as derde stelle het Medvedev gedien vir die stel. In albei moes Thiem stelpunte afweer voordat hy beheer geneem en Medvedev se hart gebreek het.

“Dis die taaiste driestel-wedstryd wat ek nog ooit gehad het,” het Thiem later volgens die ATP-reeks se webblad gesê. “Ek kon maklik een of twee stelle agter gewees het, maar gelukkig het ek my beste tennis vir die einde van daardie stelle gehou.”

Sy regterhak het Thiem in die tweede stel begin pla, en hy het ná sy sukses in die valbylpot vir mediese hulp gevra. Teen Vrydagaand kon hy nog nie sê of dit iets is wat hom in die eindstryd kan terughou nie. “Ek het nie nou pyn nie, maar hopelik is dit nie omdat die adrenalien dit verdof nie,” het Thiem gesê.

’n Seer voet is die laaste ding wat Thiem vanaand sal kan bekostig, teen ’n weliswaar wisselvallige, maar op sy beste bitter gevaarlike teenstander.

Die vyfde gekeurde Zverev het Vrydag vir die eerste keer tot die eindstryd van ’n grote deurgedring.

Ek het myself die beste kans gegee wat ek kon. Ek dink baie ander spelers sou verkrummel het.
Zverev

Soos Thiem het hy ook lang dele van sy halfeindstryd op die agtervoet deurgebring, met sy teenstander, Pablo Carreño Busta, baas in albei die eerste stelle.

Die 23-jarige Duitser kon nog nooit in ’n vyfstel-wedstryd herstel as hy die eerste twee stelle verloor het nie – maar die geelwortel voor sy neus was ook by geeneen van die vorige geleenthede so sappig nie.

“Ek is deur na my eerste Grand Slam-eindstryd en dis al wat saakmaak,” het Zverev gesê oor die spreekwoordelike klippe waaroor hy in die halfeind moes klouter.

“Sielkundig gesproke het ek kop gehou en in die wedstryd gebly, al was ek twee stelle agter. Ek het myself die beste kans gegee wat ek kon. Ek dink baie ander spelers sou verkrummel het.

“Ek het myself herinner: dis ’n Grand Slam-halfeindstryd. Daar is nie nou meer maklike wedstryde nie. Soms moet jy diep delf – en vandag het ek baie, baie diep gedelf.”

Alexander Zverev. Foto’s: AP

Zverev en Thiem is goeie vriende met ’n rits kragmetings agter hulle. Die laaste hiervan was in die halfeindronde van die Australiese Ope, wat Thiem in vier stelle gewen het. Dit het sy voorsprong oor Zverev geneem tot 7-2.

“Dit gaan ’n besonder moeilike wedstryd wees,” het Zverev oor die eindstryd gesê. “Ons het ’n epiese wedstryd in Australië gehad, en nou gaan ons dit uitspook vir een van ons om ’n nuwe Grand Slam-kampioen te word. Dit gaan regtig moeilik wees.”

Thiem stem saam met Zverev. Maar anders as die jongeling het hy drie vorige eindstryd-verskynings om aan terug te dink as die wêreld vanaand te warm raak vir hom.

En, sê hy, hy sal oorleef as hy wéér te kort skiet.

“Dis my grootste doelwit en my grootste droom (om ’n Grand Slam-titel te wen). Ek droom al daaroor van die oomblik dat ek besef het ek kan dit maak in tennis,” het Thiem gesê.

My kans is nou. Ek sal dit met alles in my probeer aangryp.
Thiem

“Dit was regtig moeilik om die nederlaag in Australië te verteer, want dit was baie naelskraaps, so ek is bly ek kon myself relatief gou weer ’n kans gee om ’n Slam te wen.

“Natuurlik is daar druk op my. Maar terselfdertyd dink ek nie te veel daaraan nie. As dit nie vir my gaan gebeur in die eindstryd nie, sal ek moet aanhou werk en wag op my volgende kans.

Tog, het hy bygevoeg, is hierdie nie ’n geleentheid waarvoor hy sy neus optrek nie.

“My kans is nou. Ek sal dit met alles in my probeer aangryp.”

Meer oor:  Tennis  |  Dominic Thiem  |  Vsa-Ope  |  Alexander Zverev  |  Amerikaanse Ope
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.