Dominic Thiem het sy plek in die eindstryd van die ATP-jaareindtoernooi in Londen teen Stefanos Tsitsipas bespreek deur die verdedigende kampioen, Alexander Zverev, in die halfeindronde te klop.

Dominic Thiem vier sy halfeindoorwinning oor Alexander Zverev. Foto: Reuters
Die Oostenryker Thiem het Zverev van Duitsland met 7-5, 6-3 in hul halfeindstryd Saterdagaand gewen. Hy kom Sondag teen die jong Griek Tsitsipas in die eindstryd te staan, nadat laasgenoemde die Switserse meester Roger Federer Saterdag met 6-3, 6-4 in die eerste halfeind verslaan het.
Min het Thiem en Zverev van mekaar geskei, totdat die Duitser ’n dubbele fout in die 12de pot op stelpunt van ’n taai eerste stel gemaak het. Hy het sy misnoeë te kenne gegee deur sy raket oor die baan te slinger.
Thiem, wat met ’n verkoue sukkel, het deurgebreek om met 4-2 voor te loop in die tweede stel nadat Zverev verskeie ongedwonge foute begaan het. Hierna het Thiem sy houvas op die wedstryd verstewig en die sege met ’n goeie hou teen die lyn af beklink. – Reuters