Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Thiem klop Zverev vir plek in Oz-eindstryd
Moeg, maar tevrede . . . Dominic Thiem bal sy vuiste nadat hy Alexander Zverev in vier stelle ondergekry het in die halfeindronde van die Australiese Ope. Foto: AP

Hy het wipplank gery tussen aggressie en passiwiteit, tussen hoë intensiteit en loodvoetige spel, maar die Oostenryker Dominic Thiem het nietemin Vrydag genoeg gedoen om sy vriend Alexander Zverev in die halfeindronde van die Australiese Ope weg te bêre.

Thiem sal nou die verdedigende kampioen, Novak Djokovic, in Sondag se eindstryd pak, nadat hy op die regte tye sy visier ingestel het om Zverev met 3-6, 6-4, 7-6 (7/3), 7-6 (7/4) te klop.

Die twee jongelinge was slaags in ’n foutbesaaide wedstryd waarin albei met tye hul eie grootste vyande was. Tussen hulle het die paar 73 ongedwonge foute gemaak (40 vir Thiem en 33 vir Zverev), nege keer hul eie afslaanpotte verloor (Thiem vier keer en Zverev vyf) en sewe dubbelfoute gemaak (Thiem vier, Zverev drie).

Die verskil was die tydsberekening van hul foute. Zverev het dalk minder dubbelfoute geslaan, maar die derde daarvan was op die tweede punt van die vierdestel-valbylpot. Beswaarlik die beste tyd vir so ’n blaps.

Die 22-jarige Duitser het wel die hou van die dag geslaan, bo-oor Thiem se kop van diep in die agterbaan, maar kon terselfdertyd nooit sy tande inslaan wanneer die Oostenryker gewankel het nie. Thiem, daarenteen, hét – dalk omdat hy vier jaar ouer is en reeds in twee Grand Slam-eindstryde gespeel het.

Zverev was vir die eerste keer tot dusver in die laaste vier by ’n Slam en was meer geneig as Thiem om in die moeilikste oomblikke verkeerde besluite te neem.

Zverev het kanse gehad om beheer van die wedstryd te neem, maar foute op kritieke tye gemaak.Foto: Reuters

Boonop is die afslaan-probleme wat hom in die laaste deel van 2019 en by vanjaar se ATP-bekertoernooi gehinder het, steeds nie heeltemal opgelos nie. Sy eerste afslane is aansienlik beter – ’n ware wapen – maar sy gebrek aan vertroue in sy tweede afslaan was merkbaar en het hom gekos.

Nodeloos om te sê het Thiem Vrydag as die gelukkiger man van die baan gestap, maar nou lê een van die hoogste berge in wêreldtennis voor hom.

Sy twee eindstryd-nederlae in Grand Slams was teen die Koning van Klei, Rafael Nadal, by die Franse Ope. En nou kom hy voor ’n soortgelyke toets te staan teen die Koning van Melbourne, Djokovic.

Die Serwiër het nog nooit ’n Australiese Ope-eindstryd verloor nie en sy naam verskyn reeds sewe keer (meer as enigiemand anders s’n) op die Norman Brookes-trofee.

Anders as Zverev raak Djokovic nie verstrengel in sy eie gedagtes wanneer dinge begin skeefloop nie. Thiem sal derhalwe in die eindstryd vir veel langer tydperke die spel moet dikteer as wat in die halfeindronde die geval was.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.