
Dominic Thiem van Oostenryk kan vandeesweek heel moontlik sy eerste Grand Slam-titel wen. Foto: Getty Images
Die tweede gekeurde Dominic Thiem het Maandag taai teenstand in die eerste stel afgeweer voordat hy die kwarteindronde van die Amerikaanse Ope met gemak gehaal het deur die jong Kanadees Felix Augur-Aliassime met 7-6(4), 6-1, 6-1 te klop.
Die Oostenryker is een van die gunstelinge om die titel in New York te verower nadat Novak Djokovic (eerste) Sondag gediskwalifiseer is omdat hy ’n lynregter met ’n bal in die keel geslaan het.
Thiem is gehelp in sy veldtog om ’n eerste Grand Slam-titel te verower deur ’n teleurstellende vertoning deur die talentvolle Augur-Aliassime, wat in die tweede ronde met Andy Murray afgereken het. Hy was egter treurig teen Thiem en het 51 ongedwonge foute begaan teenoor sy teenstander se 24.
Thiem kom volgende teen die Aussie Alex de Minaur te staan, ’n speler wat hy in albei hul vorige kragmetings geklop het, insluitende die eerste ronde by Flushing Meadows drie jaar gelede.
Daniil Medvedev (derde) is ook deur na die kwarteindronde met ’n oortuigende 6-4, 6-1, 6-0-oorwinning teen ’n lustelose Frances Tiafoe van die VSA.
Die Rus, wat verlede jaar in New York ’n epiese eindstryd in vyf stelle teen Rafael Nadal verloor het, pak sy landgenoot Andrey Rublev (10de) vir ’n plek in die halfeindronde.

Die Bulgaar Tsvetana Pironkova. Foto: Getty Images
• Benewens Serena Williams se sege met 6-3, 6-7(6), 6-3 teen die Griek Maria Sakkari, het die ongekeurde Bulgaar Tsvetana Pironkova ook die kwarteindronde gehaal deur Alize Cornet van Frankryk in drie stelle te troef.
Pironkova, wat eers vanjaar na mededingende tennis teruggekeer ná ’n afwesigheid van drie jaar, was met 6-4, 6-7 (5/7), 6-3 baas en pak Williams (derde) volgende.
Amerika se Sofia Kenin (tweede) is in skoonstelle uitgeboender deur Elise Mertens van België.
Kenin, die hoogste oorblywende gekeurde speler in die toernooi en die 2020 Australiese Ope-kampioen, is in 1 uur 14 minute met 6-3, 6-3 deur Mertens geklop.
Mertens (16de) speel teen die Belarus Victoria Azarenka in die kwarteindronde nadat sy Karolina Muchova (20ste) in 2 uur 30 minute met 5-7, 6-1, 6-4 getroef het.
• Volledige uitslae.
– Sportredaksie