Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Thiem oorkom hardekwas Noor in Parys

Toe Dominic Thiem Vrydag om 07:00 uit sy hotelbed klim om die eerste Franse Ope-wedstryd van die dag op Roland Garros se Philippe Chatrier-baan te gaan speel, was hy verbaas om te sien dat dit nog donker is.

Dominic Thiem het Vrydag gewys waarom hy een van die gunstelinge vir Franse Ope-glorie is. Foto: AP

“Gewoonlik is ons in Mei hier, en as jy 07:00 opstaan vir die eerste wedstryd van die dag, skyn die son,” het hy in ’n TV-onderhoud ná sy wedstryd gesê.

“Vanoggend toe ek opstaan, was dit nog donker. Winter is op pad, dis vir seker.”

Dit sal inderdaad oor ’n paar weke winter in die Franse hoofstad wees – maar in Thiem se loopbaan is daar tans geen sprake van winter of duisternis nie.

Die 27-jarige Oostenryker het in drie van die laaste vier Grand Slam-eindstryde gespeel en die laaste, in New York, gewen. Hy het as een van die gunstelinge vir die Franse Ope-titel in Parys aangekom.

Dit was Vrydag weer duidelik wáárom toe hy die Noorweër Casper Ruud in die derde ronde op Roland Garros genadeloos rondgejaag het.

Thiem, die derde gekeurde, het net twee uur en 15 minute nodig gehad om die 21-jarige Ruud met 6-4, 6-3, 6-1 uit te knikker. Die jongeling het tot sy krediet tot die einde geveg en Thiem ’n paar keer na lug laat slaan, maar eenvoudig nie genoeg skietgoed gehad om die Oostenryker neer te vel nie.

Ruud het ’n uitstekende kleibaan-seisoen agter hom, en met halfeindstryd-verskynings in sowel Rome as Hamburg, het hy die selfvertroue wat dit hom gegee het, saamgeneem na Roland Garros.

Dit was hy wat die pas in die eerste deel van die wedstryd aangegee het. Hy is vir sy veglustigheid beloon toe Thiem die vierde pot met ’n dubbelfout prysgegee het – maar het van daar af veel moeiliker gelewe.

Thiem is skynbaar wakker geskud deur die verlies van sy afslaanpot en het met aansienlik meer aggressie en fokus begin speel. In die res van die kragmeting het hy Ruud van kant tot kant gejaag, hom met skitterspel by die net uitoorlê en ses keer op sy afslaan deurgebreek.

Teen die einde van die wedstryd het dit gelyk of daar niks was wat hy nie kon doen nie, met geen bal te ver vir Thiem om te gaan haal nie.

“Dit was ’n baie goeie wedstryd en Casper het tot die einde geveg, so ek kon nie bekostig om hom enige kanse te gee nie,” het Thiem gesê.

“Welgedaan aan hom, hy het van begin tot einde ’n baie goeie houding gehad.”

Thiem se teenstander in die vierde ronde is die wenner van die wedstryd tussen Stan Wawrinka en Hugo Gaston, wat later Vrydag begin.

Eugenie Bouchard se Franse Ope is verby. Foto: Getty Images

• Die Kanadees Eugenie Bouchard het Vrydag die einde van die pad in die Franse Ope bereik.

Bouchard het haar beste vertoning op Roland Garros gelewer sedert sy ses jaar gelede die halfeindronde gehaal het, maar kon nie Vrydag in die derde ronde teen die Pool Iga Swiatek staande bly nie.

Swiatek was baas met 6-3, 6-2.

Die derde gekeurde Elina Svitolina het ’n beter dag op kantoor gehad toe sy met 6-4, 7-5 met Rusland se Ekaterina Alexandrova afgereken het.

Albei vroue het ’n ongesonde aantal ongedwonge foute aangeteken, met 30 agter Svitolina s’n en 40 vir Alexandrova. Hoewel die Rus ook veel meer wenhoue as Svitolina geslaan het (25 teenoor 8), was die tydsberekening van haar foute, op die wedstryd se mees kritieke oomblikke, noodlottig.

UITSLAE

Meer oor:  Tennis  |  Dominic Thiem  |  Franse Ope
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.