Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Thiem troef Nadal met valbyl-vasbyt

Die Oostenryker Dominic Thiem het albei valbylpotte gewen om Rafael Nadal van Spanje in ’n titaniese gelykopstryd Dinsdag in Londen te troef.

LONDON, ENGLAND - NOVEMBER 17: Dominic Thiem of Au
Dominic Thiem is steeds onoorwonne in Londen. Foto: Getty Images

Thiem was met sy sege van 7-6(7), 7-6(4) die eerste speler wat ’n tweede groepwedstryd in vanjaar se ATP-eindtoernooi gewen het. Die twee topspelers in elke groep sal later in die halfeindstryde speel.

Thiem het telkens sy ewewig herwin wanneer Nadal effens die oorhand gehad het. Nadal het self ook goeie veggees getoon deur altesaam vier wedstrydpunte teen hom af te weer.

Thiem het op sy beurt twee stelpunte teen hom in die eerste stel te bowe gekom.

Hy het in 2 uur en 25 minute vir die sesde keer in 15 wedstryde teen Nadal koning gekraai. Dit was die eerste binnenshuise hardebaan-wedstryd tussen hulle.

Nadal kon die ATP-eindtoernooi nog nooit wen nie en het volgens die ATP-reeks se webblad in sy roemryke loopbaan nog net een hardebaantoernooi binnenshuis gewen.

Thiem het die kampioen Stefanos Tsitispas in sy eerste groepwedstryd geklop, terwyl Nadal met Andrey Rublev klaargespeel het.

Dit het Dinsdag in die Thiem/Nadal-kragmeting 19 potte in die wedstryd geverg voordat ’n speler sy afslaan verloor het.

Nadal het met die sewende pot van die tweede stel die eerste deurbraak in die wedstryd bewerkstellig. Thiem het egter met die daaropvolgende pot teruggebreek om dit 4-4 te maak.

Nadal het op 4-5 en 0-40 met drie wedstrydpunte teen hom terugbaklei om dit 5-5 te maak. 

Hy het met die tweede valbylpot op 3-6 weer ’n wedstrydpunt afgeweer voor hy bes gegee het.

Vroeër in die eerste stel het die Spanjaard met sy valhoutjies geskitter. Thiem het hom ’n paar keer van sy eie medisyne laat proe en ook by tye sy gevaarlike handrughou laat geld.

Nadal het in die sesde pot van die wedstryd dit twee keer 40-40 gemaak, maar Thiem het vasgebyt om sy afslaan te behou en dit 3-3 te maak.

Nadal het met die dramatiese valbylpot twee stelpunte gehad om die eerste stel te beklink.

Die eerste het gekom nadat Thiem ’n dubbelfout gemaak het.

Die Oostenryker het egter albei stelpunte oorleef en toe met sy eerste dit 9-7 gemaak om die voortou in die wedstryd te neem. 

Hy het Nadal nou in vyf van hul laaste ses stelle met valbylpotte geklop.

Meer oor:  Dominic Thiem  |  Londen  |  Rafael Nadal  |  Atp-Jaareindtoernooi
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.