Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Thiem wil vrede maak met Serena

Dominic Thiem het ’n olyftakkie na Serena Williams uitgehou oor sy tirade teen haar op ’n mediakonferensie by die Franse Ope.

Dominic Thiem wil die vrede met Serena Williams herstel. Foto: Getty Images

Die Oostenryker het aangebied om met die Amerikaner in die gemengdedubbelspel op Wimbledon of in die Amerikaanse Ope kragte saam te snoer.

Thiem, wat Sondag in die eindstryd op Roland Garros deur Rafael Nadal geklop is, het Williams vroeër van ’n swak persoonlikheid beskuldig nadat sy mediakonferensie onderbreek is om vir haar plek te maak.

Die voorval het in die eerste week van die toernooi in Parys gebeur toe Williams se landgenoot Sofia Kenin haar in die derde ronde uitgeskakel het.

Thiem was besig om met die media te praat nadat hy die Argentyn Pablo Cuevas geklop het toe Williams daarop aandring om die media dadelik te woord te staan.

“Sit my in ’n ander vertrek, ’n kleiner een, maar dadelik,” het die 37-jarige Williams geëis.

Die organiseerders het Thiem (25) daarna gedwing om sy mediakonferensie kort te knip. Hy was woedend omdat hy soos “ ’n junior” behandel word en het Williams van ’n “swak persoonlikheid” beskuldig.

“Dit was waarskynlik nie Serena se skuld nie,” sê hy nou.

“Wat sy bereik het, is ongelooflik, sensasioneel. Ek wil graag vergoed deur saam met haar op Wimbledon of in die Amerikaanse Ope in die gemengdedubbelspel te speel.

“Agterna beskou is dit vreemd dat so ’n organisatoriese fout by ’n Grand Slam-toernooi gemaak is. Ek weet nie hoekom ek so kwaai gereageer het nie.”

Serena Williams in aksie in die Franse Ope. Foto: Getty Images

Thiem, ’n kleibaan-spesialis, sê hy wil sy rekord op Wimbledon verbeter, waar hy nog nooit die kwarteindronde kon haal nie. Hy het verlede jaar halfpad deur sy kragmeting met Marcos Baghdatis die aftog geblaas.

“Wimbledon is spesiaal, ek wil ’n beter vertoning lewer as verlede jaar. Ek moes in daardie wedstryd weens ’n ligte besering in die eerste ronde die handdoek ingooi.

“Nou glo ek dat ek ’n goeie kans het om ver te vorder.”

– Reuters

Meer oor:  Wimbledon  |  Tennis  |  Serena Williams  |  Dominic Thiem  |  Wta  |  Atp
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.