Die Amerikaanse tiener Amanda Anisimova het haar onttrek aan die Amerikaanse Ope-tennistoernooi ná die dood van haar pa en afrigter, Konstantin.
Die oorsaak van sy dood Maandag is nog onbekend.

Amanda Anisimova se pa en afrigter is oorlede. Foto: Getty Images
Anisimova (17) is een van vrouetennis se opkomende sterre en was in 2017 die junior kampioen in die Amerikaanse Ope.
Sy is tans 24ste op die wêreldranglys en daar was hoë verwagtinge van haar in dié Grand Slam-toernooi, wat Maandag in New York begin.
Sy het in vanjaar se Franse Ope ’n skokoorwinning oor Simona Halep, die verdedigende kampioen, behaal en die halfeindronde gehaal.
Konstantin en sy vrou, Olga, het in 1998 van Rusland na Amerika geëmigreer.

Sloane Stephens sit sonder ’n afrigter voor die Amerikaanse Ope. Foto: Getty Images
Intussen het die Amerikaner Sloane Stephens en haar afrigter, Sven Groeneveld, se paaie geskei.
Stephens en die Nederlander Groeneveld het eers in Mei vanjaar begin saamwerk. Sy het nog nie ’n plaasvervanger aangewys nie.
Stephens was in 2017 die Amerikaanse Ope-kampioen.
Sy en Groeneveld het mekaar op Twitter bedank en sterkte toegewens. – Reuters