Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Gauff wen eerste WTA-titel

Die Amerikaanse tiener Coco Gauff het Sondag haar eerste WTA-titel gewen.

Die 15-jarige Amerikaner het Letland se Jelena Ostapenko (22) met 6-3, 1-6, 6-2 in die eindstryd van die Linz Ope in Oostenryk geklop.

Coco Gauff. Foto: Getty Images

Gauff het ’n droomweek in Linz afgesluit deur die jongste speler sedert 2004 te word wat ’n WTA-toernooi wen. Sy is op 15 jaar en 214 dae net ’n raps ouer as wat die Tsjeg Nicole Vaidisova (15 jaar en 177 dae) ten tyde van haar 2004-triomf in Vancouver was.

“Ek sal dié dag vir die res van my lewe onthou,” het ’n verheugde Gauff gesê nadat sy vir ’n paar minute ’n staande ovasie van die skare gekry het.

“Ek het ’n ongelooflike week gehad en hoop om in die toekoms terug te keer.”

Gauff sal Maandag van 110de op die wêreldranglys tot diep in die top-80 opskuif en só die jongste Amerikaner in die top-100 op die wêreldranglys word sedert Jennifer Capriati in 1990.

Vir die tienersensasie is dié oorwinning die grootste oomblik van ’n jaar wat reeds wonderlike prestasies opgelewer het.

Sy het haarself aan die wyer wêreld bekend gestel deur in haar buiging by Wimbledon met Venus Williams af te reken en al die pad tot in die vierde ronde te vorder.

’n Maand later by die Amerikaanse Ope het sy die derde ronde gehaal.

Sondag in Linz het sy ’n lelike wind gesluk in die tweede stel en drie van haar afslaanpotte verloor, net om dit in die derde stel agter haar te sit en tot 5-1 te storm.

Haar senuwees het haar in daardie stadium vir ’n wyle in die steek gelaat en sy het die volgende twee potte verloor, maar daarna kon Ostapenko haar nie verder van die deur hou nie.

Gauff sal die komende week in Luxemburg in haar laaste WTA-toernooi van die jaar speel.

– WTA, Sportredaksie

Meer oor:  Tennis  |  Coco Gauff  |  Wta
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.