
Ilana Kloss en Billy Jean King. Foto: Getty Images
Tennis Suid-Afrika (TSA) het die twee vrouetoernooie van die Internasionale Tennisfederasie (ITF) wat in Maart in Potchefstroom plaasvind, genoem na die eertydse voorste Suid-Afrikaanse speler Ilana Kloss.
Die Ilana Kloss-toernooie met prysgeld van $25 0000 elk, begin op 2 Maart op die kampus van die Noordwes-Universiteit.
Kloss was in 1976 die voorste dubbelspelspeler ter wêreld en in dieselfde jaar het sy die dubbelspeltitel by die Amerikaanse Ope gewen. Sy het ook Fedbeker-tennis vir Suid-Afrika gespeel.
Sedert haar uittrede het sy in Amerika as die uitvoerende hoof en kommissaris van die Wêreld-spantennistoernooi gedien. Sy en haar jarelange vennoot en vriendin Billie Jean King het hard baklei vir gelyke regte in sport.
“Tennis is so ’n belangrike deel van my lewe en dit is ’n eer om my naam gekoppel te hê aan hierdie twee toernooie. Dit is ook ’n gulde geleentheid vir spelers om hier in Afrika wêreldranglyspunte te verwerf.
Tennis is so ’n belangrike deel van my lewe en dit is ’n eer om my naam gekoppel te hê aan hierdie twee toernooie.
Ilana Kloss
“Daar is maar min toernooie waar spelers punte kan verwerf,” sê sy.
Kloss is baie nou betrokke by Jean King se projekte.
Richard Glover, die uitvoerende hoof van TSA, sê Kloss is ’n leier op en van die baan af en dit is ’n gepaste manier om haar te vereer vir haar bydrae tot tennis in Suid-Afrika.
“Ilana het baie ervaring en sy is gretig om ons te help om die vrouetennis in die land te help groei. Ons glo dit is die begin van opwindende tye,” sê hy.
As ’n ekstra motivering vir plaaslike spelers sal die Suid-Afrikaner wat die beste by die toernooie vertoon die bonus verdien om aan nog internasionale toernooie oorsee te gaan deelneem.