Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Tsitsipas bo in skouspel teen Zverev
Stefanos Tsitsipas het geseëvier in ’n ware skouspel teen Alexander Zverev om vir die eerste keer tot nog toe die eindstryd van ’n Grand Slam-toernooi te haal. Foto: AP

Dis vir almal van ons moeilik om te glo manstennis gaan sy skouspel behou wanneer die goue trio van Roger Federer, Rafael Nadal en Novak Djokovic eendag hul rakette weggebêre het. Maar dalk moet ons nie die volgende generasie so vlak kyk nie.

Dat daar wel jonger spelers is wat tot manjifieke tennis en vermaak van die hoogste gehalte in staat is, was Vrydagmiddag glashelder op Roland Garros se hoofbaan waar die 22-jarige Stefanos Tsitsipas en 24-jarige Alexander Zverev mekaar in die eerste Franse Ope-halfeindstryd van hoek tot kant gejaag het.

Tsitsipas, vyfde gekeurde, was uiteindelik baas met 6-3, 6-3, 4-6, 4-6, 6-3, nadat hy die skitterspel waarmee hy Zverev in die eerste twee stelle tot op die rand van wanhoop gedryf het, halfpad deur die vyfde stel kon herwin. Tussendeur moes hy egter ’n reusestorm oorleef, terwyl ’n hergebore Zverev hom met passie en aggressie terug aarde toe geruk het.

Aan die begin van die wedstryd was Tsitsipas die onverstoorbaarheid self en het elkeen van sy planne gewerk. Op sy eie eerste afslaan het hy Zverev geen kans vir asem gegun nie en die Duitser in algemene spel aan bande gelê deur hom wyd te druk en die bal dan in die hope ruimte aan die ander kant van die baan te bêre. Hy het Zverev basies al die speelwerk laat doen en geduldig gewag vir sy kans om toe te slaan.

Die verstommendste is dat Tsitsipas net vyf wenhoue in die twee stelle geslaan het, maar vier keer kon deurbreek. Hy het oorgeloop van selfvertroue en kon nie ’n voet verkeerd sit nie

Die verstommendste is dat Tsitsipas net vyf wenhoue in die twee stelle geslaan het, maar vier keer kon deurbreek. Hy het oorgeloop van selfvertroue en kon nie ’n voet verkeerd sit nie. Diep in die tweede stel het hy selfs ’n punt gewen nadat sy raket met sy afslaan uit sy hand gegly het.

Die Griek se taktiek het vreeslik op Zverev se senuwees gewerk. Die Duitser het morsige tennis gespeel en dikwels teen homself saamgesweer. Teen die derde stel was sy nerwe rou.

Die keerpunt het gekom toe hy uiteindelik uiting aan sy opgekropte emosies gegee het. Hy was voor op 5-3, nadat hy uiteindelik ’n paar groot houe in groot oomblikke gespeel het, maar sy lyftaal sou steeds sy ondersteuners onrustig stem.

Op 15-15 in daardie pot het Tsitsipas die bal tot op die agterlyn geslaan, maar die lynregter het geskree dis uit. Zverev het die kreet gehoor en die bal teen die net vasgeslaan en was buite homself van woede toe die skeidsregter nie net besluit het die bal was in nie, maar ook dat Tsitsipas die punt moes kry.

Alexander Zverev het met mag en mening teruggeveg nadat hy die eerste twee stelle verloor het, maar kon nie enduit staande bly nie. Foto: Reuters

Zverev se bekgeveg met die skeidsregter het nuwe vuur in hom aangesteek. Skielik het hy met meer doelgerigtheid gespeel en Tsitsipas met groot aggressie op die agtervoet begin dwing. Met hom uiteindelik deel van die partytjie het die wedstryd soos ’n klassieke een begin voel, met albei wat hul deel vir ’n groot skouspel doen.

Nadat hy in sowel die derde as vierde stel meer as Tsitsipas uitgerig het, is Zverev die beslissende stel met meer momentum binne – maar die Griek was nie van plan om sonder ’n geveg deur die golf verswelg te word nie. Nadat hy in die eerste pot van die stel drie breekpunte moes afweer, het hy weer geglo dit kan sy dag wees en opnuut amok gemaak met die krag en kreatiwiteit wat hom die laaste paar jaar een van die opwindendste spelers ter wêreld gemaak het.

Teen die agtste pot het sy sege na ’n formaliteit begin voel en het hy vier wedstrydpunte op Zverev se afslaan gehad. Hy kon dit nie benut nie en moes tot in sy eie afslaanpot wag om die knoop deur te hak, maar het daarin net een hap van die appel nodig gehad om sy plek in die eindstryd te bespreek.

Ná die marathonstryd, wat 3 uur en 36 minute geduur het, was Tsitsipas sigbaar emosioneel. Met goeie rede ook: Hy is die eerste Griek tot nog toe wat die eindstryd van ’n Grand Slam-toernooi kon haal.

“Waar ek vandaan kom . . . dis ’n baie klein plek,” het ’n tranerige Tsitsipas ná die tyd gesê.

Die wedstryd was baie moeilik, baie emosioneel. Ek is deur baie fases van emosionele ineenstorting, maar ek het teruggekom en geveg. Dis my enigste werk: om aan te hou veg.
Stefanos Tsitsipas

“My droom was om hier te speel, op die groot verhoog van die Franse Ope. Die wedstryd was baie moeilik, baie emosioneel. Ek is deur baie fases van emosionele ineenstorting, maar ek het teruggekom en geveg. Dis my enigste werk: om aan te hou veg.”

Tsitsipas het die eerste pot van die vyfde stel as een van die heel belangrikstes van die wedstryd bestempel.

“(Daardie pot) was regtig senutergend en baie intens, maar die skare het my aangemoedig en soveel energie gegee,” sê hy.

“Ek het gevoel daar is steeds hoop en ’n kans vir my om terug te veg en iets te doen.”

Ondanks sy wonderlike vertoning sal die jong Griek Sondag se eindstryd as buiteperd binnegaan. Hy sal immers te staan kom teen óf Nadal (’n 13-malige Franse Ope-kampioen) óf Djokovic (die wêreld se onbetwiste nr. 1-speler).

• TV: Sondag 15:00 (SS 201, 214).

Meer oor:  Stefanos Tsitsipas  |  Alexander Zverev  |  Parys  |  Frankryk  |  Ope  |  Roland Garros  |  Tennis  |  Kleibaan  |  Halfeindronde  |  Grand Slam
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.