Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Tsitsipas dra fakkel vir tennis se jong Turke

Stefanos Tsitsipas het sy meteoriese opgang na die elite-vlak van manstennis voortgesit toe hy Sondagaand die jongste wenner van die ATP-jaareindtoernooi in 18 jaar geword het.

Die 21-jarige Griek Stefanos Tsitsipas ná sy oorwinning in die ATP-jaareindtoernooi in Londen. Foto: Getty Images

Dié 21-jarige Griek het teruggeveg om Oostenryk se Dominic Thiem in ’n boeiende eindstryd in Londen met 6-7(6), 6-2, 7-6(4) te verslaan.

Tsitsipas het sodoende die jongste wenner in dié prestigeryke toernooi sedert Lleyton Hewitt in 2001 geword.

Hy was boonop die jongste speler sedert Jim Courier in 1991 om in sy debuut die eindstryd te haal. Slegs die wêreld se voorste agt spelers kwalifiseer vir die jaareindtoernooi.

Thiem het ’n intense eerste stel, gekenmerk deur ’n rits kragtige houeverwisselings van die agterbaan af, in ’n valbylpot gewen. Dít het Tsitsipas egter nie ontsenu nie en hy het in die tweede stel in styl teruggeveg.

Tsitsipas het dié momentum behou en in die derde stel die voortou met 3-1 geneem voordat Thiem – ’n tweemalige finalis in die Franse Ope – teruggebreek en uiteindelik ’n valbylpot afgedwing het.

Tsitsipas was met 4-1 voor in die valbylpot voordat Thiem nogmaals teruggeveg het om dit 4-4 te maak. Die jong Griek, die Londense skare se gunsteling, het daarna drie punte op ’n streep gewen om die titel te beklink.

Dit was die eerste keer sedert 2005 dat ’n valbylpot in die beslissende stel nodig was om die wenner van dié toernooi te bepaal.

Tsitsipas lyk nou of hy die jong Turke se aanslag gaan lei om die ou garde (Roger Federer, Rafa Nadal en Novak Djokovic) se oorheersing van die spel te beëindig.

“Ek het geen benul hoe ek so goed gespeel het in die tweede stel nie,” het Tsitsipas ná sy oorwinning gesê.

Hy het 16 van die eerste 18 punte in daardie stel gewen en dit in slegs 25 minute beklink.

“Ek was op my senuwees om in so ’n groot toernooi te speel, so dis ’n groot verligting dat ek soveel veggees gehad het.”

Thiem (26) het sy eie ondergang met 40 ongedwonge foute help bewerkstellig, maar sal geweldig baie selfvertroue put uit die feit dat hy in agtereenvolgende wedstryde met Federer en Djokovic afgereken het.

Hy het sodoende ook gewys dat hy nie net op kleibane gevaarlik is nie.

Tsitsipas het ’n allemintige wennerstjek van $2,6 miljoen (sowat R38 miljoen) in sy sak gesteek en sluit die jaar as die wêreld se nr. 6-speler af.

Dié Griek het ná sy oorwinning oor Federer in die halfeindronde gesê dit sal fantasties wees as hy ook eendag ’n leërskare van ondersteuners soos die Switser kan hê. Dit moes daarom soos musiek in sy ore gewees het toe krete van “Tsitsipas ... Tsitsipas” Sondagaand deur die enorme O2-arena weergalm het.

– Reuters, Sportredaksie

Meer oor:  Stefanos Tsitsipas  |  Tennis  |  Atp  |  Atp-Jaareindtoernooi
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.