Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Tsitsipas klop Federer vir eindstryd-plek

Dit mag dalk sy eerste ATP-jaareindtoernooi wees, maar Stefanos Tsitsipas het Saterdagmiddag komkommerkoel gebly om vir Roger Federer te skok in die halfeindronde van dié toernooi.

Stefanos Tsitsipas het Saterdag vir Roger Federer geklop in die halfeindstryd van die ATP-jaareindtoernooi.Foto: Getty Images

Die Griek het geen moegheid gewys nie nadat hy Vrydag in ’n taai stryd teen Rafael Nadal vasgeval het, en het die laaste staande lid van die sogenaamde “Drie Grotes” met 6-3, 6-4 kafgedraf in ’n ongelooflike vertoning.

Dít nadat Nadal en Novak Djokovic reeds uitgeval het.

Die 21-jarige Tsitsipas het nie minder nie as nege breekpunte gered teen Federer, ’n sesmalige kampioen by die toernooi, en sy ervare teenstander in byna alle opsigte van die spel oorskadu.

Nadat hy die eerste stel gevat het, het Tsitsipas Federer vroeg in die tweede gebreek.

Hoewel Federer teruggeveg het om sake 2-2 te maak, was hy daarna vinnig weer met sy rug teen die muur.

Federer het op sy beurt gelyk of hy nog nie heeltemal herstel het van sy oorwinning Donderdag teen Djokovic nie.

Tsitsipas kon alles hanteer wat Federer in sy rigting stuur en het dit meestal sommer met rente teruggestuur.

Federer se afslane was glad nie so goed soos twee dae gelede nie en hoewel hy talle belowende oomblikke gewys het, was daar uiteindelik net eenvoudig nie genoeg in sy tenk nie.

Dit was boonop sy tweede regmerkie teen die Switserse speler nadat hy vroeër vanjaar vir Federer ook op merkwaardige wyse geklop het by die Australiese Ope in Januarie.

Tsitsipas, wat net die tweede Griek in 50 jaar is wat vir die toernooi kon kwalifiseer, sal nou teen die wenner van vanaand se tweede halfeindstryd tussen Dominic Thiem en die verdedigende kampioen, Alexander Zverev, te staan kom in Sondag se eindstryd.

Thiem geniet tans ’n voorsprong van 4-2 teenoor Tsitsipas, terwyl die Griek ’n voorsprong van 4-1 oor Zverev geniet.

Die wenner van Sondag se eindstryd sal $1 354 000 (sowat R20 miljoen) huis toe neem, met die verloorder wat steeds $657,000 (sowat R9,6 miljoen) in die sak sal steek. - Sportredaksie, Reuters

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.