Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Roger: Vat so, Vader Tyd (en Rafa)!
Soos goeie wyn . . . Roger Federer was Vrydagaand op sy skitterende beste in sy vierstel-sege oor die ou vyand, Rafael Nadal.Foto: Reuters

Roger Federer het die houvas wat Rafael Nadal op hom gehad het in Grand Slam-wedstryde Vrydagaand in die halfeindronde van Wimbledon afgeskud.

Die tweede gekeurde Switser het die derde gekeurde Spanjaard met 7-6 (7/3), 1-6, 6-3, 6-4 geklop en daarmee ook die keurkomitee van Wimbledon reg bewys.

Nadal, wat tweede op die wêreldranglys is met Federer derde, het voor die toernooi gekla dat hy ’n onguns bewys is deurdat Federer bo hom gekeur was.

Tog het die 37-jarige agtmalige kampioen van Switserland sy praatwerk op die baan gedoen en laaste gelag.

Tog het die 37-jarige agtmalige kampioen van Switserland sy praatwerk op die baan gedoen en laaste gelag.

Hy het hom met hierdie sege oor Nadal, wat vier jaar jonger as hy is, uit die Spanjaard se wurggreep gewikkel in wedstryde op die groot verhoog.

Van hul voorafgaande 13 kragmetings in Grand Slam-toernooie kon Federer net drie wen.

Boonop het Nadal al vier hul halfeindstryde in Grand Slam-toernooie gewen.

Vir Federer was die wraak Vrydagaand stroopsoet.

Die eerste gekeurde Novak Djokovic wag in die eindstryd op Federer. Foto: AP

Sy teenstander in Sondag se eindstryd is die kampioen en top gekeurde, Novak Djokovic van Serwië, wat die 23ste gekeurde Spanjaard, Roberto Bautista Agut, ook in vier stelle met 6-2, 4-6, 6-3, 6-2 huis toe gestuur het. Dit was dus ’n mislike dag vir die Spanjaarde.

Federer het ’n baie gelykop eerste stel in die valbylpot gewen, maar in die tweede was sy tenk leeg en het Nadal in ’n japtrap sake gelyk gemaak.

Hul eerste stryd op Wimbledon in elf jaar sedert die epiese kragmeting van 2008 was net so vol drama en senutergend.

Teen die verwagting in het Federer teruggestorm in die derde stel. Hy het gebreek vir 3-1 en net daarna self twee breekpunte afgeweer.

Hy het daarna in die derde pot van die vierde stel gebreek en kop gehou om sy afslane te behou.

* Dit het Djokovic vroeër twee uur en 50 minute geneem om koning te kraai in die eerste halfeindstryd.

Bautista Agut het die eerste punt van die wedstryd syne gemaak met ’n skroeiende voorarm-terughou vanaf die Djokovic-afslaan.

Tog het die Serwiër sy afslaan behou en daarna op die Spanjaard se eerste afslaanpot deurgebreek en dit later in die stel herhaal om die openingstel gerieflik met 6-2 te wen.

Net so vining soos Djokovic beheer van sake in die eerste stel geneem het, só het Bautista Agut in die tweede stel die pendulum in sy guns laat swaai deur vroeg deur te breek.

Die derde stel was besonder intens en toe Djokovic daarin slaag om in die sesde pot deur te breek en neus voor te kry, het sy reaksie gewys hoe belangrik dit was.

Die derde stel was besonder intens en toe Djokovic daarin slaag om in die sesde pot deur te breek en neus voor te kry, het sy reaksie gewys hoe belangrik dit was.

Hy het behoorlik uiting gegee aan sy vreugde.

“Ek het soos ’n styfgespande snaar geraak en het geweet daardie eerste klompie potte van die derde stel sou deurslaggewend wees. Toe ek deurgebreek het, was dit soos ’n groot las wat van my skouers gerol het en kon ek weer meer sorgvry speel,” het ’n verligte Djokovic gesê.

Daardie een deurbraak was genoeg vir die stel en in die vierde was die momentum ook met die top gekeurde.

Hy het uiteindelik vyf wedstrydpunte nodig gehad voordat Bautista Agut ’n moeë voorarm-terughou teen die net laat plons het.

“Vir my word nog ‘n droom waar om in die eindstryd te speel. Dit sal ’n ervaring wees wat ek gaan geniet,”het Djokovic geglimlag.

Meer oor:  Novak Djokovic  |  Engeland  |  Wimbledon  |  Halfeindronde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.