Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Veggees dra Novak na sy 5de titel
Nommer vyf! Novak Djokovic glimlag breed terwyl hy vir die vyfde keer in sy loopbaan met die Wimbledon-trofee teen sy bors staan.Foto: AP

Jy kan Novak Djokovic van baie dinge beskuldig.

’n Geneigdheid tot insinkings in die middel van wedstryde. Woordewisselings met skeidsregters wanneer dinge nie na sy sin verloop nie. So nou en dan hangskouers. Maar die een kwaal waaraan dié Serwiër nie ly nie, is ’n gebrek aan veggees.

Dít was, om die waarheid te sê, die enkele kwaliteit wat hom Sondag oor die eindstreep gedra het toe hy Roger Federer in die langste eindstryd wat Wimbledon nóg gesien het, ná vyf epiese stelle verslaan het.

Die eindtelling, ná vier uur en 57 minute, was 7-6(5), 1-6, 7-6(4), 4-6, 13-12(3).

Hier is die eenvoudige waarheid van hierdie wedstryd: In die geheel gesien was Djokovic nie die beste speler nie. Hy het 40 minder wenhoue geslaan as Federer: 54 teenoor 94. Hy het vier minder breekpunte benut: 3 teenoor 7. Hy het 15 minder punte gewen: 203 teenoor 218.

Maar soos in alle tenniswedstryde is die belangrikste nie hoeveel punte ’n speler wen nie, maar wanneer hulle daardie punte wen.

Dit was Djokovic se redding: dat hy sterker gestaan het op die punte wat die meeste saak gemaak het. Dis wat van hom ’n welverdiende kampioen gemaak het.

In die eerste, tweede en derde stelle was hy deurgaans die swakker speler. Federer was onstuitbaar op sy eie afslaan en het die skare behoorlik laat oe en aa met die verbeeldingryke houe wat hy oor die net gevuur het.

Die tweede stel het hy op ’n drafstap gewen, maar die ander twee het hy in valbylpotte verloor, met sy tydsberekening, ritme en geluk in daardie drukkokers nêrens te sien nie.

Djokovic kon eers in die agtste pot van die vierde stel vir die eerste keer ’n breekpunt bewerkstellig, maar kon ook toe nie soveel amok op die Federer-afslaan maak as andersom nie. Die skare was in ekstase toe die Switser ’n vyfde stel verseker.

Dat daardie stel uiteindelik al die pad tot ’n valbylpot sou gaan, was in die konteks van die wedstryd nie so ’n groot verrassing nie. Albei spelers het twee keer op die ander se afslaan deurgebreek, en albei spelers het geweier om ’n nederlaag as opsie te aanvaar.

Federer het voor die valbylpot die naaste aan wen gekom, toe hy in die 16de pot twee kampioenskapspunte op sy eie afslaan gehad het. Maar daar was meer staal tussen Djokovic se ore, en hy het die Switser se senuwees wonderlik uitgebuit met ’n rits goed geplaaste houe.

Dit het gevoel soos ’n laaste kans vir Federer, wie se 37-jarige lyf gesmeek het vir korter sarsies en minder adrenalien. Dit was immers adrenalien wat gemaak het dat hy balle op belangrike oomblikke tot diep in die agterbaan of teen die net vas geslaan het.

Toe die valbylpot op 12-12 aanbreek, was dit Djokovic wat met meer selfvertroue aangetree het – en verstaanbaar so. Dié het hy uiteindelik met 7-3 gewen nadat die bal van Federer se raket af hoog die lug in gewoer-woer het.

Vir Federer sal hierdie nederlaag nog lank seer wees. Hy het ook die vorige langste Wimbledon-eindstryd – dié van 2008, wat Rafael Nadal ná 4 uur en 48 minute gewen het – verloor.

“Ek sal probeer vergeet,” het hy ná die wedstryd aan die skare gesê. “Dit was ’n wonderlike wedstryd. Dit was lank en het alles gehad. Ek het my kanse gehad, maar ek het gedink ons het uitstekende tennis gespeel, so ek is tevrede met my vertoning. Novak was uitmuntend. Welgedaan, dit was waansinnig.”

Die veteraan het wel vir ’n ligter oomblik gesorg toe hy gesê het sy gesin sal nie baie hou van die plaat waarmee hy terugkeer huis toe nie. “Hulle sou die goue een verkies het,” het hy gesê.

Djokovic het die eindstryd bestempel as “indien nie die opwindenste eindstryd van my loopbaan nie, dan beslis in die top-2 of top-3”.

“Ongelukkig moet een van die spelers in hierdie soort wedstryde verloor. Dis onwerklik om twee wedstrydpunte te moet afweer en steeds terug te veg.”

Vir Federer was hy vol lof.

“Roger sê hy hoop hy gee ander mense ’n kans om te glo hulle kan steeds dinge doen op 37. Ek is een van daardie mense, hy inspireer my.”

Met hierdie triomf het Djokovic nou vier van die laaste vyf Grand Slam-toernooie gewen en sy wurggreep op die nr. 1-posisie op die wêreldranglys verstewig. Daar is nou 16 Grand Slam-titels agter sy naam – net vier minder as Federer se rekord van 20, en twee minder as Nadal se 18.

Meer oor:  Wimbledon  |  Novak Djokovic  |  Tennis  |  Roger Federer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.