Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Verroeste Serena verloor in terugkeer

Serena Williams was Sondag beslis nie op haar beste in haar terugkeer na mededingende tennis nie, maar die beste speler van haar generasie sê dit was ’n stap in die regte rigting terug na die kruin van haar sport.

Serena Williams (regs) Sondag saam met haar suster Venus in aksie. Foto: Getty Images

Williams, in haar eerste amptelike kragmeting sedert haar dogter se geboorte in September, en haar suster Venus is geklop in ’n dubbelspelwedstryd teen Nederland in die Fedbeker in Asheville, maar sy voel positief.

“Ek voel eerlikwaar beter as wat ek gedink het ek sou,” sê Williams, wat sedert haar sege by die Australiese Ope in 2017 nie weer voor Sondag ’n mededingende wedstryd gespeel het nie.

“Ek voel ek is op die regte koers.”

Die Amerikaner het tekens gewys van vaardigheid én roes in die 6-2, 6-3-nederlaag teen Demi Schuurs en Lesley Kerkhove.

Sy het vroeg in die wedstryd gesukkel om die roes van haar lang afwesigheid af te skud. Maar die wenner van 23 Grand Slam-titels het redelik vinnig haar voete gevind en is luidkeels toegejuig nadat sy ’n paar uitstekende wenhoue gemoker het.

“Ek het nie geweet wat om te verwag nie. Miskien is dit hoekom ek voel ek het beter vertoon. Ek het nie verwag om al daardie krag op my afslaan te hê nie, hoewel hulle nie in was nie,” sê sy.

“Dit is maar net ’n begin. Ek voel dit is ’n baie goeie stap in die regte rigting.”

Williams (36) was bedlêend vir ses weke weens komplikasies nadat haar eersteling deur middel van ’n keisersnee gebore is.

Tog sê Williams sy het haar terugkeer met hoë verwagtinge benader.

“As ek die baan met min verwagtinge betree moet ek ophou doen wat ek doen. So dit sal nooit gebeur nie,” sê sy.

“Ek sal altyd die beste en hoogste verwagtinge vir myself hê.”

Die wedstryd het geen uitwerking op die uitslag van die kragmeting gehad nie nadat Venus vroeër die VSA ’n voorsprong van 3-0 gegee het in die beste-van-vyf-stryd.

Die verdedigende kampioene pak Frankryk in die halfeindronde op 21 en 22 April.

Williams, wat in Desember in die Verenigde Arabiese Emirate deur die Franse Ope-kampioen Jelena Ostapenko geklop is, sê sy moet leer om haar tyd beter te bestuur noudat sy vir haar dogter ook moet sorg.

“Ek het nie my tyd korrek bestuur nie, maar ek dink nou aan die toekoms en hoe ek dit moet aanpas,” sê sy.

“Hierdie is letterlik die eerste keer wat die baba saam met my reis. Ek gaan hard probeer om dit beter te doen. Dit was moeilik gewees.”

– Reuters

Meer oor:  Serena Williams  |  Wta
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.