Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Verslane Maria wil nog nie boedel oorgee

Maria Sharapova het Dinsdag in Melbourne vir die derde agtereenvolgende keer in die eerste ronde van ’n Grand Slam-toernooi verloor, sodat die tenniswêreld nou gons oor hoeveel lig daar nog in die tonnel vir haar loopbaan is.

Haar reaksie op vrae oor haar toekoms wys egter duidelik dat sy nog nie van plan is om boedel oor te gee nie. Op 32 glo sy vas dis nog te vroeg om haar raket weg te pak.

Maria Sharapova is Dinsdag in skoon stelle uit die Australiese Ope geboender. Foto: AP

Sharapova, wat danksy ’n promotors-uitnodiging in die Australiese Ope gespeel het, is Dinsdag met 6-3, 6-4 deur Kroasië se 19de gekeurde Donna Vekic uitgeskakel en sal nou vir die eerste keer in 18 jaar uit die top-350 op die wêreldranglys val.

Hoewel sy as vyfmalige Grand Slam-kampioen ’n onbeperkte aantal promotors-uitnodigings in die kalenderjaar kan aanvaar, kan knaende probleme met haar regterskouer (waaraan sy verlede jaar laat sny het) dalk ’n stokkie daarvoor steek.

Sharapova is gevra of sy ’n tyd voorsien waarin sy weer gereeld sal kan speel, waarop sy volgens The Guardian geantwoord het: “Ek het nie ’n kristalbal om te sê of ek kan of sal nie, maar ek sou graag wou.”

Sy het erken dat dit moeilik is om te sê sy is op die regte pad 45 minute nadat sy verloor het.

“Maar daar is geen ander manier om (uit die gat) te kom as om aan te hou glo in jouself nie. Jy kan al die regte dinge doen, maar as jy nie in jouself glo nie is dit waarskynlik ’n slegte formule,” sê sy.

“Ek kan hier sit en praat oor al my teenspoed en waardeur ek gegaan het met my skouer, maar dis nie regtig in my karakter om dit te doen nie. Ek was hier, ek het myself daarbuite geplaas (en gespeel). So moeilik soos dit was, het ek die wedstryd voltooi – net nie soos ek wou nie.”

Sharapova was Dinsdag stadig uit die blokke en in ’n oogwink met 1-5 agter teen Vekic, voordat sy deurgebreek het om ’n tikkie selfgeloof te herwin.

In die tweede stel het sy meer soos haar ou self gelyk en self tot ’n voorsprong van 4-1 gestorm – maar daarna het sy haar greep op die stryd verloor en die volgende vyf potte (en die wedstryd) verloor.

* Die ander groot opskudding in die vroueafdeling is gelewer deur die 25-jarige Tunisiër Ons Jabeur, wat die Britse gunsteling Jo Konta met 6-4, 6-2 uitgeboender het.

Konta, wat pas terug is nadat ’n kniebesering haar ’n paar weke gehinder het, was verroes en sonder antwoorde teen die ongekeurde Jabeur. Die Tunisiër het Konta uit die staanspoor rondgejaag en die Brit kon nooit die oorhand kry nie.

Vir die tweede gekeurde Karolína Plísková het die toernooi veel voorspoediger begin. Sy het die ongekeurde Kristina Mladenovic met 6-1, 7-5 geklop en oorgenoeg tekens gewys dat dit ’n goeie toernooi vir haar kan wees.

Die Wimbledon-kampioen, Simona Halep (vierde gekeur), het Jennifer Brady met 7-6(5), 6-1 verslaan en die Australiese Ope se 2016-kampioen, Angelique Kerber, was met 6-2, 6-2 te sterk vir die kwalifiseerder Elisabetta Cocciaretto.

Meer oor:  Australies Ope  |  Maria Sharapova
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.