Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Vleis vel my neer, sê kampioenspeler

Die skorsing van een helfte van manstennis se beste dubbelspelpaar net dae voor die Australiese Ope is gister deur hul afrigter as ’n “verpletterende terugslag” beskryf.

Juan Sebastian Cabal (links) en Robert Farah (regs) spog verlede jaar met die Amerikaanse Ope-trofee. Foto: Getty Images

Jeff Coetzee, Suid-Afrikaanse afrigter van die dinamiese duo Robert Farah en Juan Sebastian Cabal, het aan Sport24 gesê hy voel jammer vir Farah, nadat die 32-jarige Colombiaan positief vir ’n verbode middel getoets het en voorlopig geskors is.

“Ons fokus nou op die dinge wat ons kan beheer. Ek word net onregstreeks geaffekteer, maar Farah se skorsing is ’n verpletterende terugslag. Ek voel jammer vir hom.”

Farah en Cabal het verlede jaar die dubbelspel-titels by Wimbledon en die Amerikaanse Ope gewen en in die eindstryd van die Australiese Ope verloor.

Hulle was eerste gekeur vir vanjaar se Australiese Ope, wat môre begin.

Ná Farah se skorsing sal Cabal egter saam met die jong Spanjaard Jaume Munar as ongekeurdes in Melbourne speel, nadat hy en Coetzee die afgelope week inderhaas ’n plaasvervanger vir Farah moes vind.

Farah se skorsing is ’n verpletterende terugslag. Ek voel jammer vir hom.

Farah het Donderdag via Twitter gesê hy het in Oktober positief getoets vir boldenone, ’n anaboliese steroïed.

Beesboere in Colombia gebruik boldenone om die gehalte van hul produk te verbeter – op so ’n groot skaal dat Colombia se Olimpiese komitee sy atlete reeds in 2018 gewaarsku het hulle kan dit in hul gestel kry deur vleis te eet.

“Ek is seker dis wat die uitslag veroorsaak het,” het Farah getwiet.

Farah het gesê hy moes twee weke voor die positiewe toets ook in Sjanghai ’n opkikkertoets doen, wat negatief was. Oor die loop van 2019, sê hy, is hy 15 keer getoets en “dieselfde negatiewe uitslag” is gekry.

“Ek gaan deur een van die hartseerste oomblikke van my lewe, en sonder twyfel die hartseerste van my sportloopbaan,” het Farah getwiet. “Saam met my span en ’n groep raadgewers oorweeg ons nou die stappe wat ons moet doen om hopelik te wys ek het nog nooit enige produkte gebruik wat oneties is of teen die beginsels van regverdige sport indruis nie.”

Coetzee het gesê hy sal verwikkelinge in die saak fyn dophou.

“Ons wag om te sien hoe dinge oor die volgende week gaan ontvou. Dit is net ’n voorlopige skorsing en stappe word tans gedoen om dit teen te staan.”

Meer oor:  Australiese Ope  |  Jeff Coetzee  |  Robert Farah  |  Skorsing  |  Verbode Middels
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.