Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Voormalige SA speler VSA se nuwe breier

Die Amerikaanse tennisspan sal later vanjaar met ’n Suid-Afrikaner in sy midde in die eerste weergawe van die nuwe Davisbeker-eindtoernooi in Spanje opdaag.

David Nainkin in 1999 in aksie vir Suid-Afrika teen Belarus in Kaapstad. Foto: Gallo Images

Die 48-jarige David Nainkin is Amerika se nuwe afrigter.

Nainkin, sedert 2004 werksaam met verskeie Amerikaanse spelers by die Amerikaanse Tennisvereniging (USTA), is vandeesmaand met dié taak toevertrou.

Die nuwe spankaptein, Mardy Fish, het hom aangestel.

David Nainkin saam met Sloane Stephens. Foto: Getty Images

Nainkin was destyds Fish se afrigter toe hy in 2011 tot sewende op die wêreldranglys gevorder het.

Fish het die leisels as spankaptein by Jim Courier oorgeneem. Nankin sal toevertrou word met die taak wat voorheen gesamentlik deur Jay Berger en Robby Ginepri verrig is.

Amerika begin sy aanslag in die eindtoernooi in November in Madrid teen Italië. Kanada is die derde span in Groep F.

Altesaam 18 spanne sal in ses groepe slaags wees in die nuwe eindtoernooi. Die kragmetings bestaan uit slegs twee enkelspelwedstryde en een dubbelspelwedstryd.

As Amerika sy groep wen, sal hy teen die wenner van Groep D (een van Australië, België of Colombia) speel.

Nainkin was van 2004 tot 2013 by die USTA werksaam. Hy het in 2015 heeltyds as nasionale afrigter van spelerontwikkeling soontoe teruggekeer nadat hy ’n ruk die Amerikaner Sam Querrey se afrigter was.

Hy was voorheen ook Sloane Stephens se afrigter, wat voortgegaan het om in 2017 die Amerikaanse Ope te wen.

Nainkin was voorheen ook een van die afrigters van die belowende Taylor Fritz.

Nainkin het in sy speeldae nooit ’n ATP-eindstryd gehaal nie, maar was in 1995 in Beijing in ’n halfeind betrokke waarin Michael Chang hom geklop het.

Sy grootste opskudding in ’n Grand Slam-toernooi was in die Amerikaanse Ope van 1996, waarin hy sy landgenoot en toe die negende gekeurde Wayne Ferreira in vier stelle in die eerste ronde verras het. Hy het die einste Ferreira en Justin Gimelstob ook ná sy speeldae as breier bygestaan.

Nainkin het Suid-Afrika in 1998 en 1999 in Davisbeker-kragmetings verteenwoordig.

* Bykomende bronne: atptour.com, playerdevelopment.usta.com

Meer oor:  Tennis  |  Vsa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.