
Francesca Jones het medici verkeerd bewys en is op pad na Australië. Foto: Getty Images
Die Brit Francesca Jones, wat aan ’n skaars genetiese siekte ly, het vir die eerste keer die hoofloting van ’n Grand Slam-toernooi gehaal.
Jones (20) het Woensdag in Dubai in die laaste ronde van kwalifisering vir die Australiese Ope met Lu Jiajing van China afgereken.
Sy ly aan gesplete ektodermale displasie-sindroom, ’n toestand wat beteken sy is met drie vingers en ’n duim aan elke hand, drie tone aan haar regtervoet en vier tone aan haar linkervoet gebore.
Dokters het haar as kind meegedeel dat sy weens haar fisieke gestremdheid nie in staat sou wees om ’n beroepsloopbaan in tennis te volg nie. Maar sy sê dit het haar eenvoudig aangespoor om almal verkeerd te bewys.
Jones, wat sê balans is haar grootste struikelblok, het sedertdien alle verwagtinge oortref en vandeesweek ’n nuwe hoofstuk by haar storie gevoeg deur Lu met 6-0, 6-1 te verslaan om haar plek by Melbourne Park te bespreek. “Ek is eenvoudig oorstelp om te kwalifiseer en sien uit daarna om na Australië te reis,” sê Jones, 241ste op die wêreldranglys.
Sy het in haar lewe reeds meer as tien operasies ondergaan.
“Ek het Australië nog nooit besoek nie en ek is seker dit gaan ’n ongelooflike ervaring wees. Ek skat enige loting vir my sal fassinerend wees. Ek sien uit na enige wedstryd wat ek moet speel, of dit nou teen Serena Williams of teen ’n mede-kwalifiseerder is.”
Jones vertrek eersdaags na Australië waar die spelers ’n verpligte kwarantyntydperk van 14 dae in Melbourne moet deurbring.
’n Klompie opwarmingstoernooie begin op 31 Januarie voordat die eerste major van die jaar van 8 Februarie af beslis word. – Reuters