Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Vyfstel-dramas oorskadu grotes se seges

Die Grand Slam-meesters Novak Djokovic en Roger Federer het Woensdag onderskeidelik 95 en 92 minute geneem om hul plekke in die derde ronde van die Australiese Ope te bespreek. Maar hul oortuigende oorwinnings was nie die storie van die dag nie.

Sowel Djokovic (6-1, 6-4, 6-2 teen Tatsuma Ito) as Federer (6-1, 6-4, 6-1 teen Filip Krajinovic) het ’n roetine-dag op kantoor gehad – anders as die agt mans wat in vyfstel-kragmetings propvol hoë-oktaan-tennis verstrengel geraak het.

Onder hulle tel twee van verlede jaar se Amerikaanse Ope-semifinaliste, Matteo Berrettini en Grigor Dimitrov. Vir albei is dit nou neusie verby in Australië.

Matteo Berrettini moes die knie buig voor Tennys Sandgren. Foto: AP

Berrettini, die agtste gekeurde speler, het eers laat in die derde stel van sy wedstryd teen die Amerikaner Tennys Sandgren onthou wat hy kan doen nadat hy albei die eerste twee stelle verloor het. Hy het met ’n reuse-terugvegpoging gekom en die wedstryd so byna gered, net om in die 11de pot van die vyfde stel sy fokus te verloor – en daarmee ook die wedstryd.

Sandgren, wie se ma in Suid-Afrika gebore en getoë is, was ná drie uur en 23 minute baas met 7-6(7), 6-4, 4-6, 2-6, 7-5.

Ook Dimitrov is huis toe gestuur deur ’n onbesonge Amerikaner, die 22-jarige Tommy Paul.

Paul (wat verlede week in Adelaide deur Suid-Afrika se Lloyd Harris verslaan is) het Dinsdag twee uur en 40 minute nodig gehad om die eerste ronde in Melbourne te oorleef (nadat sy wedstryd eers ’n dag later plaasgevind het weens reënonderbrekings), maar daar was geen tekens van uitputting terwyl hy Dimitrov in die eerste twee stelle deur sy passies gesit het nie.

Tommy Paul het net-net genoeg in die tenk gehad om Woensdag in ’n marathon-stryd met Grigor Dimitrov af te reken. Foto: Reuters

Teen die vierde stel was sy tenk egter duidelik leeg en het hy gesukkel om uit te kom by balle wat hoek toe gestuur is. Maar so ervare soos Dimitrov is, het hy Paul nie genoeg rondgejaag nie, sodat die jonger speler teen die einde van die vyfde stel, toe dit die meeste saak gemaak het, gevind het hy het nog genoeg petrol vir ’n laaste hoera.

Dimitrov het op 5-4 gedien vir die wedstryd, net om sy afslaan te verloor en die valbylpot met hangskouers binne te gaan.

Daarin was Paul op sy heel beste. Hy het 10 van die 13 punte gewen om die wedstryd met 6-4, 7-6 (8/6), 3-6, 6-7(3/7), 7-6 (10/3) te beklink.

In een van die ander vyfstellers het die 21ste gekeurde Benoit Paire 30 kishoue geslaan en 82% van die punte op sy eerste afslaan gewen, maar 51 ongedwonge foute het hom daarvan weerhou om die voormalige Amerikaanse Ope-kampioen Marin Cilic tot oorgawe te dwing.

Cilic was ná drie en ’n half uur net-net baas, met 2-6, 7-6 (8/6), 6-3, 1-6, 7-6 (10/3).

Laat in die dag het die Italianer Fabio Fognini (12de gekeur) die partydige Australiese skare se harte gebreek deur die Aussie Jordan Thompson met 7-6 (7/4), 6-1, 3-6, 4-6, 7-6 (10/4) te verslaan.

* Suid-Afrika se oorblywende hoop in die mans-enkelspel, die ongekeurde Kevin Anderson, kom Donderdag teen die Amerikaner Taylor Fritz (29ste gekeur) te staan.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.