Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
‘Wedstryd teen Serena was ’n teken’
Maria Sharapova het vyf van haar tien Grand Slam-eindstryde gewen. Van links Wimbledon (2004), Amerikaanse Ope (2006), Australiese Ope (2008) en Franse Ope (2012 en 2014).Foto: Getty Images

Maria Sharapova het onthul die drag slae teen Serena Williams verlede jaar in die Amerikaanse Ope het haar oortuig dis tyd om tennis te los.

Die 32-jarige Sharapova van Rusland se roemryke loopbaan, wat vyf Grand Slam-titels ingesluit het, is uiteindelik deur beserings kortgeknip. Sy het Woensdag haar uittrede aangekondig.

Sharapova sê net voor sy met 1-6, 1-6 teen haar ou geswore teenstander Williams verlede jaar op Flushing Meadows verloor het, was daar vir haar ’n teken.

“ ’n Halfuur voor ek op die baan is, het ek ’n prosedure gehad om my skouer te verdoof om deur die wedstryd te kom,” sê Sharapova.

’n Halfuur voor ek op die baan is, het ek ’n prosedure gehad om my skouer te verdoof om deur die wedstryd te kom.
Maria Sharapova

Sy het oor die jare ’n rits skouerbeserings en -operasies gehad en dit was nie juis iets nuuts vir haar nie. Sy het met tye vir maande lank behandeling ontvang.

Sharapova onthul net om op die baan te kon stap daardie dag was ’n oorwinning. Sy sê sy vertel dit nie om te simpatie te kry nie, maar beoog net daarmee om die prentjie te skets dat haar liggaam haar te veel begin opkeil het.

Sharapova het ironies genoeg haar eerste Grand Slam-titel as 17-jarige teen die einste Williams op Wimbledon verower.

Novak Djokovic

Verskeie huidige en voormalige spelers het Sharapova intussen gelukgewens met haar loopbaan en wat sy alles vermag het. Talle van hulle het in onderhoude en op Twitter haar as ’n vegter en inspirasie beskryf, onder andere Novak Djokovic.

“Sy is ’n groot vegter, so toegewyd soos wat een in ons sport kan wees en sy het ’n wilskrag en bereidwilligheid gehad om al die struikelblokke wat sy gehad het, te oorkom,” sê die wêreld se voorste manspeler.

“Ek is jammer dat dit met ’n besering moes eindig, maar sy het ’n fantastiese loopbaan gehad, sy kan trots wees op haarself.”

Billie Jean King sê vandat Sharapova haar eerste Wimledon-titel as 17-jarige gewen het, was sy ’n groot kampioen. Sy voeg by Sharapova se sukses in die sakewêreld is net so indrukwekkend soos haar tennisprestasies en dat die beste nog vir haar voorlê.

Een van die jong en opkomende spelers, Amanda Anisimova van Amerika, sê sy gaan Sharapova mis.

“Ons almal gaan jou mis. Jy het so baie mense inspireer en het gewys wat ware toewyding en harde werk is. Dis ongelooflik wat jy bereik het,” sê die 18-jarige.

Ons almal gaan jou mis. Jy het so baie mense inspireer en het gewys wat ware toewyding en harde werk is. Dis ongelooflik wat jy bereik het.
Amanda Anisimova

Die Tsjeg Petra Kvitova, wat vir Sharapova in 2011 om die Wimbledon-titel geklop het, sê dit was ’n plesier om die baan met haar te deel.

“Ons het toe ons gespeel het altyd groot tweestryde gehad en ek het soveel respek vir jou harde werk en die manier waarop jy altyd vir alles geveg het. Jy het baie in jou lewe sover bereik en ek weet dis net die begin.”

Monica Puig van Puerto Rico, wenner van die vorige Olimpiese Spele in 2016, het Sharapova bedank vir haar bystand toe sy met depressie gesukkel het.

“Dankie vir wat jy alles vir ons sport gedoen het, maar meeste van alles dankie daar jy daar vir my was in my donkerste oomblikke in Puerto Rico.”

Martina Navratilova, veelmalige Grand Slam-kampioen.

Martina Navratilova het op Twitter geskryf: “Geluk met ’n wonderlike loopbaan, wat ’n loopbaan-Grand Slam insluit en dat jy baie nuwe aanhangers na die sportsoort wat ons liefhet, gebring het. Geniet die lewe ná tennis, ek sou dit nie waag om dit uittrede te noem nie!”

Die Griek Stefanos Tsitsipas sê hy kom ook van ’n Russiese agtergrond en het daarom begrip van hoe Sharapova sake benader het. “Ek dink baie mense is jaloers op die loopbaan wat sy gehad het.”

* Bronne: TeamTalk, wtatennis.com, tennisnow.com, tennishead.net,tennisworldusa.org




Meer oor:  Novak Djokovic  |  Martina Navratilova  |  Maria Sharapova  |  Rusland  |  Uittrede  |  Tennis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.