Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Wie op aarde kan Rafa ontspoor?

Verlede jaar was dit La Decima – Die Tiende – en vanjaar is dit die veldtog om La Undecima – Die Elfde.

Rafael Nadal storm skynbaar onstuitbaar voort na die elfde Franse Ope-titel van sy loopbaan. Foto: AP

Die Spaanse tennismaestro Rafael Nadal het tot dusver in die kleibaanseisoen net een wedstryd verloor en storm skynbaar onstuitbaar voort na die elfde Franse Ope-titel van sy glorieryke loopbaan.

Die vraag is nie dié keer of hy gesond genoeg is om dit te verower (hy is, soos sy onlangse titels in Monte Carlo, Barcelona en Rome beaam) en of hy die nodige motivering het om daarvoor te veg nie (hy het).

Die vraag is wie die nodige skietgoed het om hom te keer.

En die mans in daardie kategorie is maar bra min.

Dominic Thiem

Dominic Thiem is die enigste speler wat Nadal sover vanjaar (en verlede jaar) op klei kon verslaan. Foto: AP

In ’n artikel op die webblad Tennis World USA is die 24-jarige Thiem verlede maand ‘Die Prins van Klei’ gedoop.

Nadat hy verlede jaar die enigste speler was wat Nadal op klei kon klop (in Rome), is hy tot dusver vanjaar óók die enigste man wat Nadal uit die wenkamp kon hou (in die kwarteindronde van die Madrid Ope).

Hy is een van net drie mans wat Nadal al drie of meer keer op klei kon verslaan, saam met Novak Djokovic en Gaston Gaudio. Weeg dit op teen die feit dat Nadal in 13 jaar net 36 keer op klei verloor het om te verstaan hoe sonderling daardie prestasie is.

Die een ding wat water op die verwagtinge rondom Thiem se kanse teen Nadal gooi, is dat die Spanjaard verlede jaar die vloer met hom gevee het in die Franse Ope-halfeindronde – net drie weke ná Thiem die sterker van die twee was in Rome.

Alexander Zverev

Alexander Zverev se drome van ’n eerste sege oor Nadal is verlede Sondag in Rome deur ’n reënbui in die wiele gery. Foto: Getty Images

In die een sport wat die idee van vervaldatums deesdae al meer aan skerwe blaas, is die Duitser Alexander Zverev ’n afwyking.

Hy is net 21 jaar oud, maar blaf gemaklik saam met die ou honde van tennis. Daar is reeds drie ATP-meesterstitels agter sy naam (die mees onlangse die een wat hy vandeesmaand in Madrid gewen het), tesame met vyf ander krone. Op die wêreldranglys is net Nadal en Roger Federer bo hom.

Zverev het Nadal verlede jaar tot vyf stelle gedwing toe hulle by die Australiese Ope swaarde gekruis het, wat aandui dat hy nie skrik vir die Spanjaard se reputasie nie. Sy vertoning verlede Sondag in Rome, toe hy snel op pad was na ’n sege oor Nadal voor die reëngode toegeslaan en die momentum geswaai het, het dit bevestig.

Op die Grand Slam-verhoog moet die jongeling homself wel nog bewys. Hy kon nog nooit die kwarteindronde van ’n Grand Slam-toernooi haal of met ’n top50-speler afreken op dié verhoog nie. As die tweede gekeurde by Roland Garros sal hy hoop om albei dié dinge te vermag.

Novak Djokovic

Novak Djokovic het verlede week in Rome sy eerste halfeindronde van die jaar gehaal en is een van enkele spelers wat weet hoe om Rafael Nadal op klei te klop. Foto: AP

Djokovic het Nadal in sy loopbaan al ’n verstommende sewe keer op klei op sy neus laat kyk. Twee van daardie seges was by Roland Garros, en een op pad na sy titelsukses in 2016.

Natuurlik is Djokovic lankal nie meer die speler wat tussen 2011 en 2015 alles voor hom weggevee het nie, maar in sy halfeindstryd teen Nadal verlede week in Rome was daar tekens dat hy terug op koers is.

Hy het duidelik nog nie die resep waarmee hy Nadal in die verlede neergevel het vergeet nie, en die Spanjaard met tye duidelik ongemaklik en loodvoetig gelaat.

Die gesprek oor Djokovic moet egter nie gaan oor sy vermoë om Nadal te klop nie, maar eerder sy vermoë om die stemme in sy kop stil te hou en nie teen homself te verloor nie.

Die Serwiër het die laaste 18 maande of wat te gereeld teruggeval na die dikbek-sleepvoet-houding van sy jeug en homself so in die voet geskiet. Bemoedigend soos sy vertoning in Rome was, is dit steeds moeilik om te voorspel dat hy met ’n oop kop en skoon gemoed deur Roland Garros sal kom.

Juan Martín del Potro

Juan Martín del Potro sweet tans oor ’n liesbesering, maar hy is ingeskryf vir die Franse Ope en as hy fiks is, ’n potensiële gevaarman. Foto: Getty Images

Die groot voorspellings dat Del Potro Nadal kan skud, het niks te make met ’n blink rekord teen die Spanjaard nie. In hul enigste twee ontmoetings op klei was Nadal elke keer baas – hoewel dit lank terug en onderskeidelik in 2007 en 2011 was.

Wat die wedders eerder opgewonde maak oor Del Potro, is sy wonderlike spelpeil in 2018. Hy het vanjaar drie eindstryde gehaal en twee titels gewen. In die proses het hy kat en muis met sy teenstanders gespeel en hulle met brute krag oordonder.

Met die beseringspook se asem konstant in sy nek, het Del Potro besluit om die grootste deel van die kleibaanseisoen op sy rusbank deur te bring – maar toe hy wel verlede week in die Italiaanse Ope gespeel het, het ’n liesbesering wat hom in die derde ronde uitgedwing.

In dié stadium is dit onseker of hy op sy beste by Roland Garros sal kan wees, maar as sy lies homself gedra, kan Del Potro in die halfeindronde in Nadal se pad staan.

En daar kan sy aggressie dalk net die Spanjaard se moses wees.

Meer oor:  Novak Djokovic  |  Dominic Thiem  |  Franse Ope  |  Rafa Nadal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.