Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Wie sal heethoof Kyrgios wil afrig?

Die vraag op almal se lippe by Melbourne Park: Hoe rig jy ’n speler soos Nick Kyrgios af?

Nick Kyrgios se raket loop gereeld in tennistoernooie deur. Foto: Getty Images

Australië se talentvolste speler is in die eerste week uit die Australiese Ope geknikker te midde van kritiek oor sy houding, gedrag en toegewydheid.

Die vurige 21-jarige is met $5 500 beboet vir ’n hoorbare uitbarsting en raketmisbruik tydens sy nederlaag in die tweede ronde teen die Italianer Andreas Seppi – ’n wedstryd waarin hy die eerste twee stelle gewen het.

In Oktober is hy vir agt weke geskors ná ’n onderonsie tussen hom en ondersteuners toe hy by die Sjanghai-meesters midde in ’n punt van die baan af gestap het.

Daardie skorsing is tot drie weke verminder nadat Kyrgios ingestem het om by ’n sportsielkundige berading te kry.

Ná sy nederlaag in Melbourne het Kyrgios erken dit mag dalk tyd wees om die hulp van ’n heeltydse afrigter in te roep.

Baie van die groot name het alreeds gesê hulle is nie beskikbaar nie en wie ook al díe taak aanpak, sal net so ’n sterk karakter soos die wêreld se nr.13-speler moet hê.

“Jy sal regtig baie reguit moet wees – ek dink dit gaan oor eerlikheid,” het die voormalige Wimbledon-kampioen Pat Cash gesê.

“Al hierdie jong ouens verdien baie geld en niemand het vir hulle die werklikheid uitgestippel of eerlik oor alles gepraat nie.

“Dit is nie maklik om die waarheid te hoor nie.”

Cash sê hy voel nie Kyrgios het ’n krisispunt bereik nie, maar hy moet al meer in voeling kom met sy emosies en homself beter probeer verstaan.

“Dit is regtig belangrik dat hy ’n volledige bestuurspan om hom kry wat sy kwessies kan help hanteer,” het hy gesê.

“Dit is ’n holistiese benadering vir Nick en dit gaan nie net daaroor dat hy op die tennisbaan moet presteer nie. Dit is alles anders wat om hom aangaan en waarna daar ook gekyk moet word.

“Maar hy moet dit geniet – as hy nie wil tennis speel nie, kan hy ophou, dit is reg so. Geen probleem nie. Ek sal die eerste mens wees wat sê ‘welgedaan’ as hy dít wil doen.”

Pat Cash, ’n voormalige Wimbledon-kampioen, sê dis tyd dat iemand reguit met Kyrgios praat. Foto: Getty Images
Thomas Johansson, ’n voormalige Australiese Ope-kampioen en top-afrigter, sê die probleem met jong spelers is dat hulle dink hulle weet alles. Foto: Getty Images

Thomas Johansson, ’n voormalige Australiese Ope-kampioen wat Caroline Wozniacki, Borna Coric en David Goffin afgerig het, sê dit was nie altyd maklik om sy boodskap aan die spelers oor te dra nie.

“Die ding met dié jong spelers is, hulle dink hulle weet alles en soms luister hulle nie regtig na wat jy sê nie,” het die Sweed gesê.

“Ek dink dit is taamlik belangrik vir hulle om te sien wie is in beheer. Soms, nie net in wedstryde nie, maar ook op die oefenbaan, kan jy sien hulle hou nie van dié oefening nie of dink iets is nie reg nie.

“Borna sou dit in twee sekondes vir jou vertel het, maar David sou niks gesê het nie. As jy ’n middeweg tussen die twee kan vind, sou dit goed wees. Ek hou glad nie daarvan as jy nie te alle tye op dieselfde bladsy is nie.”

Patrick Mouratoglou, wat Serena Williams afrig, sê die feit dat Kyrgios genoem het dat hy ’n afrigter nodig het, was ’n positiewe stap, maar hy het gesê dat al die top-spelers daarvan hou om ’n afrigter uit te daag.

“Ek dink die beste spelers het almal sterk persoonlikhede, anders sou hulle nie kampioene gewees het nie.

“Jy moet vir hulle wys dat hulle jou kan vertrou, maar as hulle te ver gaan moet jy die probleem aanspreek, en moet jy hulle wys dat jy ook ’n sterk persoonlikheid het, maar dat jy hulle respekteer.

“As daar ’n konfrontasie is, moet jy toesien dat dit nie in die toekoms tot verdere konfrontasie lei nie. Somtyds is dit noodsaaklik.”

– Reuters

Meer oor:  Australiese Ope  |  Nick Kyrgios
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.