Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Wimbledon-held Raven: Ons is ver van klaar

Raven Klaasen wil graag ’n bietjie meer opgewonde wees oor die feit dat hy Saterdag op Wimbledon se hoofbaan sal uitstap vir sy eerste eindstryd op dié gewyde grond.

Maar hy moes homself Donderdag knaend terugrem. Daar is immers die sakie van ’n baie groot wedstryd waarvoor hy moet voorberei.

Raven Klaasen en Michael Venus hou kajuitraad by Wimbledon. Hulle sal Saterdag in die eindstryd van die mansdubbelspel speel. Foto: Getty Images

Die Kuilsrivier-boorling sal Saterdag die eerste Suid-Afrikaner in 13 jaar wees wat in ’n Wimbedon-eindstryd speel, nadat hy en sy Nieu-Seelandse speelmaat, Michael Venus, hul halfeindstryd in die mansdubbelspel-kompetisie in vier stelle gewen het.

Klaasen-hulle het die Deen Frederik Nielsen en Engelsman Joe Salisbury met 7-6 (8/6), 3-6, 6-3, 6-4 verslaan in ’n taai wedstryd wat net drie deurbrake op afslaan opgelewer het. Klaasen was veral indrukwekkend by die net, waar sy goeie reflekse Salisbury-hulle frustreer het.

Dit sal vir albei hul eerste Wimbledon-eindstryd wees. Klaasen het die halfeindronde twee jaar terug saam met die Amerikaner Rajeev Ram gehaal.

“Dis ongelooflik om die eindstryd te haal,” het Klaasen Donderdag gesê. “Jy weet, jy kom elke jaar hierheen en hoop om baie goed te doen. Ek het twee jaar terug ’n voorsmakie gehad van die laaste deel van die toernooi, maar om nou daardie een treetjie verder te gaan is fantasties.

“Ek wil graag meer opgewonde wees, maar ek weet ook daar is nog werk om te doen. Dit klink baie vervelig, maar ons moet nou teruggaan na die tekenbord, ons huiswerk oor ons teenstanders gaan doen en seker maak ons is reg om nog ’n dag te veg.”

Daar was ’n boodskap van die president (Cyril Ramaphosa) en dis net ongelooflik om te sien hoe Suid-Afrika agter ons staan. Dis groot motivering.
Raven Klaasen

Die volgende hekkie in Klaasen-hulle se pad is hoog. Mike Bryan, een helfte van die suksesvolle Bryan-broers, span by hierdie Wimbledon kragte saam met sy Amerikaanse landgenoot Jack Sock. Albei was al Wimbledon-kampioene, maar is as kombinasie onbekend aan Klaasen en Venus.

“Dit gaan ’n groot stryd wees, ons weet dit. Mike was natuurlik al ’n paar keer in groot eindstryde en Jack het ook al Wimbledon gewen (in 2014 saam met Vasek Pospisil). Ons het al teen albei van hulle gespeel, maar wanneer hulle ander maats gehad het. As kombinasie ken ons hulle nie,” sê Klaasen.

Die Kapenaar se groot sukses is een van die hoofstukke in ’n merkwaardige Wimbledon-verhaal vir Suid-Afrika. Nie net sal Kevin Anderson Vrydag die eerste SA man in 35 jaar wees wat in ’n enkelspel-halfeind speel nie, maar Kgothatso Montjane het deurgedring tot die halfeindronde van die rolstoel-afdeling se enkel- én dubbelspel.

Klaasen en Venus se sukses Donderdag het gekom op die einste Baan 1 waar Anderson Woensdag vir Roger Federer geskok het.

“Ek was bevoorreg genoeg om die einde van Kevin se wedstryd te kyk en ek kan eerlik sê dis een van die beste goed wat ek in my hele tennisloopbaan gesien het. Hopelik kan ons almal nou by mekaar inspirasie vind en saam verder vorder,” sê hy.

“Daar was ’n boodskap van die president (Cyril Ramaphosa) en dis net ongelooflik om te sien hoe Suid-Afrika agter ons staan. Dis groot motivering.”

Klaasen het in 2014 sy enigste ander Grand Slam-eindstryd, by daardie jaar se Australiese Ope, gehaal, en sê hy het waardevolle lesse daaruit geleer.

“Toe was dit vir my yslik dat ek die eindstryd gehaal het, maar ek het te veel daarop gekonsentreer. Die keer het ek meer perspektief. Die toernooi is nie klaar voor die eindstryd nie klaar is nie. Dit beteken ons is nog ver van klaar.”

* Die mansdubbelspel-eindstryd vind ná die vroue-eindstryd, wat Saterdag om 14:00 begin, plaas.

TV: SS 6

Meer oor:  Raven Klaasen  |  Wimbledon
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.