Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Kerber is nuwe Wimbledon-kampioen!
Angelique Kerber het Saterdag die Wimbledon titel gewen toe sy vir Serena Williams met 6-3, 6-3 verslaan het. Foto: Getty Images

Die Duitser Angelique Kerber het haar derde Grand Slam-titel gewen toe sy die bordjies teen Serena Williams in ’n herontmoeting van 2016 se Wimbledonse eindstryd Saterdag verhang het.

Die 11de gekeurde Kerber (30) het die sewemalige Wimbledonse kampioen, wat in haar 10de eindstryd gespeel het, met 6-3, 6-3 gestuit.

Die 30-jarige Kerber het die Venus Rosewater-skottel daarmee vir die eerste keer gelig nadat sy die Australiese Ope en Amerikaanse Ope in 2016 gewen het.

Sy was die eerste Duitse wenner sedert Steffi Graff in 1996 om op die grasbane van Wimbledon te seëvier. 

Die 25ste gekeurde Williams was maar in haar 14de wedstryd (4de toernooi) in aksie sedert haar terugkeer tot die baan nadat sy ’n baba gehad het.

Die eindstryd het twee ure later as beplan begin nadat die halfeindstryd tussen Novak Djokovic en Rafael Nadal eerste voltooi moes word.

Williams se soveel kragtiger houespel wat haar vinnigste afslaan van die toernooi insluit, was een te veel vir die Duitser. Kerber het as teenvoeter goed gedoen deur die bal hoeke toe te jaag. 

Williams (36) was in die eerste stel tot ’n mate vir haar eie ondergang verantwoordelik met 15 ongedwonge foute teenoor die vier wat Kerber gemaak het.

Die Duitser het nadat sy die eerste stel beklink die tweede stel met groot selfvertroue met ’n vyfde agtereenvolgende pot begin. Sy het ook die enigste deurbraak in die tweede stel gehad wat genoeg was. 

Kerber het vroeër met die eerste pot op Williams se afslaan deurgebreek nadat die Amerikaner ’n paar balle teen die net vasgeslaan het. Williams het dit in die vierde pot 2-2 gemaak nadat sy drie breekpunte gehad het.

Kerber het in die sewende pot drie breekpunte gehad nadat Williams twee agtereenvolgende dubbelfoute begaan het. Williams het twee daarvan afgeweer voordat sy ’n bal diep geslaan het waarmee Kerber die tweede keer op haar afslaan deurgebreek het om met 4-3 weer die voortou te neem.

Kerber het in die negende pot haar eerste stelpunt benut nadat Williams in die net vasgeslaan het. Dit was maar die tweede stel wat Williams vanjaar op Wimbledon verloor het.

Williams het ná Kerber vyf potte in ’n ry gewen en het die bal nie net harder geslaan nie, maar haar wenners ook heelwat luidrugtiger weggestuur.

Dit was egter Kerber wat in die tweede stel weer die eerste en enigste deurbraak bewerkstellig het om dit 4-2 te maak.

Kerber het op 5-3 afgeslaan vir die wedstryd en op 40-30 haar eerste wedstrydpunt benut toe Williams die bal ’n soveelste keer teen die net vasgeslaan het. 

Meer oor:  Wimbledon  |  Serena Williams  |  Angelique Kerber
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.