Alexander Zverev en Roger Federer se bestuursmaatskappy, Team8, se paaie het geskei.
Dié wêreld se nr. 7-speler het onlangs ook sy vennootskap met David Ferrer, sy afrigter, beëindig.

Alexander Zverev se familie gaan voortaan weer ’n prominente rol in sy tennisloopbaan speel. Foto: Getty Images
Dié Duitser het verlede jaar sy eerste Grand Slam-eindstryd (die Amerikaanse Ope) gehaal, twee ATP-titels in Keulen gewen en ook die eindstryd van ’n ATP 1000-toernooi in Parys gehaal.
“Ek het my eerste Grand Slam-eindstryd gehaal sonder dat my ouers of broer langs die baan kon wees omdat hulle die koronavirus gehad het.
“Om dié rede en ook as gevolg van die deurlopende Covid-19-beperkings wêreldwyd, het ek besluit om terug te keer na my wortels en sal my familie my voortaan met my afrigting en die bestuur van my loopbaan help.
“Ek wil Team8 bedank vir hul goeie werk en die ongelooflike ervaring, maar ons voel dis die regte besluit om my familie weer ’n groter rol te laat speel.”
Zverev het saam met sy sukses in 2020 ook verskeie terugslae beleef.
Hy is daarvan beskuldig dat hy sy gewese vriendin, Olga Sharypova, aangerand het en is ook hewig gekritiseer omdat hy in ’n vol nagklub gedans het nadat hy in kontak was met spelers wat positief vir die koronavirus getoets is. Dít nadat hy gesê het dat hy homself sou afsonder.
Die Team8-agentskap is deur Federer, ’n 20-malige Grand Slam-kampioen, en sy jare lange agent Tony Godsick gestig. Dié agentskap hou die regte vir die Laverbeker-toernooi, waar Europa se beste spelers in spanformaat teen die room van die res van die wêreld se spelers te staan kom. – Reuters