Die Britse veteraan-joernalis kyk my in absolute ongeloof aan.

“Wat?”

“Ja, Cardiff is ’n bietjie soos Bloemfontein,” herhaal ek die waarneming wat my gespreksgenoot, wat Bloem al besoek het, duidelik bisar vind.

Ons is ’n spul joernaliste wat ons ná die Proteas se oorwinning oor Afganistan by Sophia Gardens laatnag in ’n eetplek bevind.

Cardiff is glad nie wat ’n mens van ’n Europese hoofstad verwag nie. Altans nie wat grootte betref nie.

Cardiff se middestad ontwaak in 'n miernes van partytjiegangers wanneer die son gaan sak. Foto: Tinus van Staden

Die middestad is kompak, die beroemde Principality-stadion (voorheen bekend as die Millennium-stadion) wat soos ’n wit berg bo al die geboue uittroon.

So ’n halfuur se stap weg van die middestad en jy bevind jou by die waterfront met ’n rits restaurante, maar weinig voetgangers. Glad nie soos die Kaapse waterfront nie. Of dalk het die goor Walliese weer besoekers ontmoedig om die hawe die laaste week te besoek.

Cardiff het wel ook ’n kasteel, soos Kaapstad . . .

“Oukei, dalk nie heeltemal soos Bloemfontein nie. Dalk ’n bietjie soos Kaapstad, net kleiner?” toets ek ’n nuwe vergelyking by die Brit.

“Nee, ook nie soos Kaapstad nie.”

Die Cardiff-kasteel is die stad se hartklop en ook die beroemdste besienswaardigheid. Die kasteel grens aan die lowergroen Bute-park, waardeur ons groepie van sewe joernaliste gestap het op pad na die eetplek waar ons nou sit en gesels.

Die Cardiff-kasteel is die stad se hartklop en ook die beroemdste besienswaardigheid.

Of minstens tot by die hek wat uit die park op die middestad uitloop, voordat ons moes omdraai, want hoe moes ons lot toeriste nou weet dié hek word om 21:00 in die aand gesluit. Nie eens die Brit waarmee ek nou gesels, was hiervan bewus nie. Hy is eintlik van Leeds in Engeland.

Ons moes dus maar omdraai, terug oor die voetbrug oor die Taff-rivier en anderkant om na die besige middestad.

Op pad het ons verby ’n groep jong Walliese mans geloop, wat uit volle bors en met diep stemme loop en sing.

Die lowergroen Bute-park in Cardiff. Foto: Tinus van Staden

Studente. Hoe nader ons aan die middestad kom, hoe meer partytjiegangers sien ons. Die stadsentrum het ontwaak en is ’n miernes van jong mense wat kuier.

Dié prentjie herinner aan iets . . .

“Ken jy Stellenbosch? Oukei, Cardiff se naglewe is soortgelyk aan Stellenbosch s’n. Net op ’n groter skaal,” probeer ek.

Die joernalis skud sy kop. “Nee, dit is nie soos Stellenbosch nie.”

Buite krioel dit van die jongmense wat van kuierplek na kuierplek stroom.

Die Prince of Wales-eetplek, in die skadu van die Principality-stadion, is ’n groot gunsteling onder inwoners en toeriste. Die Protea-afrigtingspan het selfs een aand van hul hotel by die waterfront na die middestad gekom om dié restaurant, wat in ’n groot, ou teater opgerig is, te besoek.

'n Voetbrug oor die Taff-rivier in Cardiff, met die Principality-stadion in die agtergrond. Foto: Tinus van Staden

Ons stap uit die restaurant. Dit is tyd om huis toe te gaan. Ons loop verby die Prince of Wales en buite op die sypaadjie word ’n fris man deur vyf polisiemanne platgedruk, sy aansienlike arms agter sy rug vasgepen terwyl hy geboei word. “Ek gee oor, ek gee oor!” skree hy. Duidelik ’n opstoker.

“Dít het ek al in Potchefstroom gesien,” sê ek vir die Brit.

Hy skud sy kop. Hy weet ’n aand in die unieke Cardiff se middestad kan behoorlik met ’n mens se kop smokkel.