Toe hy in Mei 2018 sy uittrede uit internasionale krieket aangekondig het, is AB de Villiers “vertroulik gevra of die deur nog oop is” vir hom om ’n terugkeer te maak om in die Wêreldbeker-toernooi te speel.

“Ek is gevra. Ek het nie aangebied nie,” het De Villiers Vrydag in ’n verklaring gesê waarin hy sy stilswye verbreek het nadat die sogenaamde AB-bom gedurende die WB-toernooi gebars het.

Net ná die Proteas se derde nederlaag van die toernooi teen Indië, het die nuus gebreek dat De Villiers ’n dag voor die aankondiging van die WB-groep vir Faf du Plessis en Ottis Gibson gebel het en aangebied het om in dié toernooi te speel.

In ’n verklaring waarin hy vir die eerste keer sy kant van die saak stel, sê De Villiers ’n informele gesprek wat hy met sy ou vriend Du Plessis gehad het, is verdraai om hom (De Villiers) in ’n swak lig te stel.

“Nou dat die Proteas se WB-veldtog verby is en die span se aandag nie afgelei kan word nie, wil ek graag reageer op onregverdige kritiek op my gedurende die toernooi,” sê De Villiers in die verklaring.

Hy sê hy het “ja” geantwoord toe hy met sy uittrede in Mei 2018 gevra is of hy dit sou oorweeg om ’n terugkeer vir die WB te maak. Hy sê nie wie hom gevra het of die “deur nog oop is” vir ’n terugkeer nie.

“By nabetragting moes ek nee sê, maar dit was nog altyd my natuurlike aard om in te stem waar ook al moontlik,” sê De Villiers.

In die maande ná sy uittrede, was daar geen kontak tussen hom en Krieket Suid-Afrika nie, sê De Villiers.

“Ek het my besluit gemaak en die Proteas het aanbeweeg en sukses geniet onder die vaardige leiding van die afrigter Gibson en die uitstaande kapteinskap van Du Plessis.”

Toe net voor die toernooi, bel hy sy ou vriend Faf vir ’n informele geselsie.

MANCHESTER, ENGLAND - JULY 06: Faf Du Plessis of S
Faf du Plessis / Foto: Getty Images

“Ek en Faf is al vriende sedert ons saam op skool was en twee dae voor die span aangekondig is, het ek hom gebel om te gesels.

“My spelpeil was redelik goed gedurende die Indiese Premierliga (IPL) en ek het informeel herhaal wat ek ’n jaar vroeër gesê het, dat ek beskikbaar was as ek benodig sou word. Maar net as ek benodig sou word.“Ek het absoluut geen eise gestel nie. Ek het myself beslis nie in die groep probeer indwing op die aand voor die toernooi nie en ek het nie verwag om ingesluit te word nie.”

De Villiers sê die storie is nie deur hom of enige verteenwoordiger van hom aan die media gelek nie.

“Ook nie deur Faf nie. Miskien wou iemand kritiek (van die span) weglei, ek weet nie.”

Hy sê die gevolg was dat hy onregverdiglik as “arrogant, selfsugtig en besluiteloos” beskryf is.

“Maar my gewete is skoon. Ek het om eerlike redes besluit om uit te tree. Ek is nie kwaad vir enigiemand nie.”

Hy het ook teruggekap na mense wat sê hy het uit internasionale krieket getree om geld in T20-ligas na te jaag.

Volgens hom het hy uitgetree omdat hy sy werkslading wou verminder en meer tyd saam met sy vrou en jong seuns wou deurbring.

“Party mense hou vol ek is uitsluitlik deur geld gemotiveer. Hulle is verkeerd. Ek het, inderwaarheid, baie goeie aanbiedings om oor die wêreld heen te speel, van die hand gewys.

“Ek het die tyd wat ek weg van die huis af deurbring, van agt maande tot net meer as drie maande per jaar verminder.”

Hy sê ondanks dié onsmaaklike episode wat tydens die toernooi rugbaar geword het, het hy steeds uitstekende verhoudinge met al die spelers.

“Nou sal ek wil aanhou om in sekere T20-toernooie in Suid-Afrika en elders in die wêreld te speel. Noudat ek my kant van die onnodige en onsmaaklike storie gestel het, wil ek graag my voortdurende ondersteuning vir die span uitspreek.”