Sri Lanka se krieketspan is ongelukkig oor die kolfblaaie waarop hy moet speel én sy verblyf.

Hy het sy klagtes by die Internasionale Krieketraad (IKR) ingedien.

Sy vorige twee wedstryde in die Wêreldbeker-toernooi in Bristol het uitgereën.

Sri Lanka het sy veldtog op boulersvriendelike blaaie in Cardiff, Wallis, begin, waar hy teen Nieu-Seeland verloor het en net-net teen Afganistan gewen het.

Ashantha de Mel, die spanbestuurder, verwag nog ’n groen blad op die Oval in Londen, waar die Sri Lankane Saterdag vir Australië pak. Hulle glo die blad sal hul teenstander bevoordeel.

“Wat ons gesien het, is dat vir die vier wedstryde wat sover in Cardiff en Bristol gespeel is, die IKR ’n groen blad voorberei het,” het De Mel aan Daily News gesê.

“Op die ander velde, is die blaaie gunstig vir hoë tellings. Die blad hier op die Oval is grasgroen. Ons klagtes is nie suur druiwe nie.

“Dit is onregverdig dat die IKR een soort blad vir sekere spanne voorberei en ’n ander een vir ander.”

Die Sri Lankaanse kamp is ook teleurgesteld met die gehalte van oefengeriewe en hul hotelverblyf.

“Selfs die oefengeriewe in Cardiff was onbevredidgend,” De Mel.

“Ons het net twee oefennette gehad, pleks van drie. Die hotel in Bristol het nie ’n swembad nie. Dit is noodsaaklik vir elke span – veral die snelboulers – om hul spiere te laat ontspan ná ’n oefening.

“Die hotelle waarin Pakistan en Bangladesj in Bristol gebly het, het swembaddens.”

Die IKR het bevestig hy het die klagtes ontvang, maar het albei verwerp.

“Ons is tevrede met die blaaie wat oral voorberei word. Al tien spanne geniet gelyke behandeling, sodat hulle die beste moontlike voorbereiding kan hê,” sê die IKR in ’n verklaring. – Reuters