Hashim Amla wil nog nie sy internasionale krieketloopbaan beëindig nie, sê die Protea-kaptein, Faf du Plessis.

Du Plessis (96*) en Amla (80*) het Vrydag in Chester-le-Street ’n vennootskap van 175* om die derde paaltjie gedeel om die Proteas tot ’n oorwinning met nege paaltjies oor Sri Lanka in die spanne se Wêreldbeker (WB)-wedstryd te voer.

Dít was Amla se eerste oortuigende beurt van die toernooi en baie kenners en ondersteuners voel die 36-jarige aanvangskolwer moet sy kolf ná die WB wegpak.

Dit gaan egter nie gebeur nie.

“Hy sê hy wil nog aangaan. Ek voel jy laat dit aan ’n groot speler oor om self te besluit wanneer hy wil wegstap,” het Du Plessis ná die sege gesê.

Hy sê hy wil nog aangaan. Ek voel jy laat dit aan ’n groot speler oor om self te besluit wanneer hy wil wegstap.
Faf du Plessis

“Groot spelers beplan hul eie uittrede. As Hash nog goed speel en hy wil aanhou, dan sal hy nog aanhou. Dit sal belangrik wees dat hy seker maak hy speel steeds bestendig goed.”

Du Plessis was vol lof vir sy vennoot se kolfbeurt.

“Jou groot, senior spelers se spelpeil bepaal hoe goed jy vaar. Hashim het uitstekend gespeel vandag. As daar een of twee meer sulke beurte was, van hom en myself en Quinny (de Kock), sou ons nou in ’n beter situasie gewees het.

Hy sê dit is moeilik om te sê of die feit dat daar nie meer druk op die Proteas is om vir die halfeindronde te kwalifiseer nie, hulle met groter vryheid laat speel.

“Dit is baie makliker om 200 te jaag, want daar is geen telborddruk nie. Ons het vandag ons basiese dinge reg gedoen.

Dwaine Pretorius

“Dwaine (Pretorius, wat 3/25 in tien beurte gevat het), wat nie in die vorige wedstryde gespeel nie, het vandag goed gespeel.

“Die ouens het nou al ’n geruime tyd goed gekolf, maar hulle kon net nie voortbou op goeie beginne nie. Vandag het ons die basiese dinge reg gedoen.

“Ek kan nie sê waarom ons dit nie vroeër kon doen nie.”

Du Plessis sê hy persoonlik voel vir ’n rukkie nou al goed met die kolf. Dit het ook gehelp dat die span vandag slegs 204 gejaag het.

Tog voel die sege leeg.

“Dit is fantasties om te wen, maar dit is bittersoet, want ons weet ons het baie mense in die steek gelaat en dit was nooit die plan nie.

“Ons sal dit steeds geniet in die kleedkamer en hierdie sege vier. Maar as ons terugkeer, sal daar steeds ’n leë gevoel wees van ‘wat kon gebeur het?’

Ons sal terugkyk na die toernooi en dit as ’n baie teleurstellende een sien, maar daar was baie wedstryde waar die verskil tussen wen en verloor klein was.
Faf du Plessis

“Ons sal terugkyk na die toernooi en dit as ’n baie teleurstellende een sien, maar daar was baie wedstryde waar die verskil tussen wen en verloor klein was, soos teen Nieu-Seeland.

“En ek onthou teen Indië het ons goed geboul en KG (Rabada) was baie ongelukkig om nie meer paaltjies te vat nie. Daar is klein dinge wat nie vir jou uitwerk nie en dan, as jy terugkyk, lyk dit of jy heeltemal uitoorlê is.

“Ons was nie fantasties nie, maar ons was ook nie só ver uit in dié toernooi nie.”