Hashim Amla het baie werk saam met die Proteas se Dale Benkenstein,kolfafrigter, gedoen om hom gereed te kry vir die Wêreldbeker-toernooi. Foto: Gallo Images

Lopies – en baie van hulle – in die Proteas se komende twee opwarmwedstryde is al wat Hashim Amla kan help om ’n plek in Suid-Afrika se elftal te verseker vir die eerste Wêreldbeker-wedstryd teen Engeland op die Oval.

As sy wilgerlat nié Vrydag in Cardiff teen Sri Lanka of Sondag in Bristol teen die Windies vlamvat nie, sal Aiden Markram die beurt op 30 Mei in die openingswedstryd saam met Quinton de Kock begin. Want Faf du Plessis, die span se kaptein, soek spelers met skitter-spelpeil.

“Wat spankeuses betref, wil jy graag volhard met die ou wie se spelpeil goed is,” het Faf du Plessis voor die span se vertrek na Engeland gesê.

Faf du Plessis. Foto: Gallo Images

“Ons het twee opwarmwedstryde, so dalk slaan Hash twee honderdtalle. As iemand se spelpeil beter as syne is, sal daardie ou gekies word,” sê Du Plessis.

“Daardie ou” heet Markram – wat in sy laaste 12 provinsiale eendagwedstryde ’n allemintige 1 008 lopies opgestapel het – 466 van daardie lopies is boonop in Engeland aangeteken.

Du Plessis sê Amla is vanweë sy ervaring nietemin ’n belangrike speler in die groep.

“Hy was al daar en bring soveel kalmte. Al speel hy nie ’n enkele wedstryd nie, is die kennis wat hy met iemand soos Markram gaan deel, van kardinale belang.”

Du Plessis het ook die sluier gelig oor hoe die Proteas se kolflys moontlik kan lyk. Die span gaan plooibaar wees en by situasies aanpas, maar die plan is dat Du Plessis en Rassie van der Dussen die nr. 3- en nr. 4-plekke beklee, met David Miller op nr. 5 en JP Duminy op nr. 6.

“Dave sal op nr. 5 kolf, want hy benodig tyd om homself in te speel voordat hy ontplof aan die einde van ’n beurt.

“JP sal op nr. 6 instap, want hy speel baie vrylik die laaste tyd. Hy kan dieselfde tipe rol as Eoin Morgan van Engeland vertolk deur net in te stap en met vryheid te speel.

JP sal op nr. 6 instap, want hy speel baie vrylik die laaste tyd. Hy kan dieselfde tipe rol as Eoin Morgan van Engeland vertolk deur net in te stap en met vryheid te speel.
Faf du Plessis

“Dan het ons die veelsydige speler (waarskynlik Andile Phehlukwayo) op nr. 7 en daarna ons boulers.”

Hierdie samestelling bring mee dat die Proteas ’n lang kolfstert het. Tog, sê Du Plessis, hulle gaan nie hul grootste sterkpunt – spierkrag onder die boulers – verswak om ’n langer kolflys te bewerkstellig, deur byvoorbeeld twee veelsydige spelers te kies nie.

Kagiso Rabada. Foto: Gallo Images

“Ons het dit duidelik gemaak dat as ons vir Kagiso Rabada, Lungi Ngidi, Dale Steyn en Imran Tahir tot ons beskikking het, ons glo hulle sal ons die beste kans bied om die toernooi te wen.

“Ons gaan dit nie inboet nie. Lopies gaan irrelevant wees as jy die beste boulers by die Wêreldbeker het. Dit is Plan A.

“As ouens weens beserings onbeskikbaar is, dan moet jy meer aanpasbaar wees. Dan moet jy kyk wat is jou Plan B.”

Daar is kommer oor Steyn se fiksheid vir die eerste wedstryd. As hy nie fiks is nie, kan Dwaine Pretorius of Chris Morris sy plek inneem.