Vir jare kon hul oudste vyand nie aan die Aussies raak wanneer dit by belangrike eendagwedstryde kom nie. Maar Donderdag het Engeland hulle in die Wêreldbeker (WB)-halfeindstryd met minagting weggevee.

Engeland se drafstap-sege met agt paaltjies beteken krieket sal Sondag op Lord’s vir die eerste keer sedert Sri Lanka in 1996 ’n nuwe Wêreldkampioen kry.

Nie een van Engeland of sy teenstander, die buiteperd Nieu-Seeland, het al ooit die WB gewen nie.

Soos Engeland op Edgbaston in Birmingham gespeel het, sal dit ’n dapper man verg om geld teen die gasheer te verwed.

Die Engelse het die patroon van wen die loot, kolf eerste en wen die wedstryd – wat die geval in 18 van die laaste 23 WB-wedstryde was – verbreek.

Australië is vir 223 uitgeboul nadat hy die loot gewen en besluit het om eerste te kolf. Danksy sy briljante aanvangskolwer Jason Roy het Engeland die teiken met 107 balle in die spaarbank bereik en die Aussies vir die eerste keer sedert 1992 in ’n WB-wedstryd geklop.

Dit was slegs die derde keer in nege WB-wedstryde wat Engeland Australië kon troef. Engeland se eendag-revolusie duur voort.

Die sege is op die grondslag van ’n skitterende openingsboulskof deur die Engelse aanvangsboulers Chris Woakes (3/20 in agt boulbeurte) en Jofra Archer (2/32 in tien bbe.) gebou.

Hulle het die hart uit die Aussies se kolflys geruk en hulle tot 27/3 in die eerste kragspel verdoem.

Veggees is egter verweef met Australië se krieket-DNS en Steve Smith (85, 119 balle) en die indrukwekkende paaltjiewagter, Alex Carey (46, 70 b), het die Aussies van ’n totale insinking gered.

Dié duo is met die telling op 14/3 ná 6.1 beurte voor die penne verenig en het ’n vegters-vennootskap van 103 lopies om die vierde paaltjie gedeel.

Met sy telling op 4 is Carey deur ’n opslagbal van Archer teen die kop getref. Die aflewering het sy kopskerm afgeruk, wat die voormalige Aussie Rules-speler met sy een hand gevang het voordat dit op sy paaltjies kon val.

Die bitsige aflewering het sy wangbeen oopgekloof en Carey moes voortveg met ’n verband om sy kop waardeur bloed op sy hemp gedrup het.

Steve Smith (85) word ná ’n briljante beurt uitgehardloop. Foto: Getty Images

Smith, wat saam met sy mede-balpeuteraar David Warner goed geboe is deur die Engelse skare, het gewys hoe om kalm te bly in benarde situasies. Op ’n kol het hy slegs 5 lopies ná 30 aflewerings gehad.

Die bybreekbouler Adil Rashid (3/54 in tien bbe.) het die vennootskap verbreek en die Engelse met sy beste boulvertoning van die toernooi gehelp om die Aussies se dreigende terugvegpoging in die kiem te smoor.

Daar is egter nie iets soos ’n maklike jaagtog in ’n WB-halfeindstryd nie. Vra maar vir Virat Kohli...

Dié teiken kon dus, soos die geval gereeld met kleinerige teikens is, ’n potensiële piesangskil wees vir ’n Engelse span onder tamaai druk om hul tuistoernooi te wen.

Maar die vryheid waarmee hul aanvangskolwers, Roy (85, 65 b; 9x4, 5x6) en Jonny Bairstow (34, 43 b), gekolf het, het alle druk laat kwyn.

Jason Roy piets Mitchell Starc vir ’n ses. Foto: Reuters

Roy was met reg die josie in nadat hy met sy span se telling op 147 uitgegee is, aangesien die Pat Cummins-aflewering nooit sy kolf getref het onderweg na Carey se handskoene nie.

Teen daardie tyd was die skade reeds verrig. Sy vennootskap van 124 in 17.2 boulbeurte met Bairstow het die uitslag verseël.

Joe Root (49*, 46 b) en Eion Morgan (45*, 39 b) het daarna die afrondingswerk met die grootste gemak gaan doen en Australië het besef hulle het hier met ’n nuwe Engeland te doen gekry. Nie die kitskrieket-lappoppe van die verlede nie.

Tydens die middagetepouse het die Engelse joernaliste reeds begin praat oor die parade wat die span met die trofee gaan hou. Engeland glo. Onbeskaamd en onverskrokke.

Telkaart