David Warner se eerste honderdtal vir Australië sedert sy skorsing het Australië Woensdag ’n oorwinning met 41 lopies oor Pakistan in Taunton besorg.

Warner, is verlede jaar vir 12 maande saam met sy voormalige kaptein, Steve Smith geskors vir die balpeutery-skandaal in Kaapstad.

Warner en die kaptein, Aaron Finch (82) het 146 lopies om die eerste paaltjie gevoeg om ’n uitstekende platform geskep.

Sy 107 (111 balle; 11x4, 1x6) het Australië tot ’n mededingende totaal van 307 gehelp. Die Aussies sou egter teleurgesteld met dié totaal gewees het. Hulle het slegs 57/7 in die laaste 45 balle van die beurt aangeteken.

Die Pakistanse swaaibouler Mohammad Amir het uitstekend geboul om die Pakistani’s terug in die wedstryd te kry en het met 5/30 geëindig.

Dit was egter oorgenoeg en Pakistan is tot 266 beperk.

Pakistan was goed op koers op 136/2 na 25 boulbeurte, maar die verlies van Imam-ul-Haq het tot ’n ineenstorting gelei en Pakistan het nooit herstel nie.

Wahab Riaz (45) en Hassan Ali (36) het die Aussies bietjie laat sweet, maar dit was nie genoeg nie.