’n Paar donker seisoene lê vir die Proteas voor, maar daar is lig aan die einde van die tonnel.

Dít was die boodskap van dr. Ali Bacher, voormalige Suid-Afrikaanse krieketkaptein en krieketbaas, nadat die Proteas se hoop om die halfeindronde van die Wêreldbeker (WB)-toernooi te haal, Sondag op Lord’s teen Pakistan finaal geëindig het.

Bacher het dié wedstryd, wat Pakistan met 49 lopies gewen het, bygewoon. Hy keer Woensdag na Suid-Afrika terug.

“Ek het voor die toernooi reeds my bedenkinge gehad oor of ons die halfeindronde sou haal,” het Bacher Dinsdag uit die Marriott-hotel in Londen gesê.

Hy lys drie hoofredes hiervoor.

“Ons het drie uitstekende spelers in dié era – AB de Villiers, Hashim Amla en Dale Steyn.

“De Villiers is, om watter rede ook al, nie hier nie. Hy tel bykans vir twee kolwers.

“Hashim is een van ons beste kolwers van alle tye, ’n paar jaar gelede was sy gemiddeld in toets- en eendagkrieket nog goed meer as 50. Ongelukkig het die jare hom ingehaal.

“Steyn is ons beste snelbouler ooit, maar ook hy kon nie in hierdie toernooi speel nie.”

Bacher sê dit is die eerste rede waarom hy getwyfel het of die Proteas ’n goeie toernooi sou hê.

“Tweedens het ons baie jong spelers in die span, sonder baie internasionale ervaring. As jy na spanne soos Engeland en Australië kyk, het hulle spelers met 100, 120 internasionale wedstryde op hul kerfstok.”

Die derde rede is die Proteas se lang kolfstert.

“Dit moet dus nie ’n verrassing wees dat die span nie die halfeindronde gaan haal nie.”

Dit is egter juis die jeugdigheid van die groep, wat Bacher ook positief oor die toekoms maak.

“Maar is ek pessimisties oor die toekoms? Nee. Want ons het skitterende jong spelers. Kagiso Rabada en Aiden Markram is net 24 jaar oud, Lungi Ngidi en Andile Phehlukwayo net 23, Quinton de Kock 27 en Keshav Maharaj (29) is ook nog jonger as 30.”

Bacher sê Maharaj moet by die span betrek word as die draaier noudat Imran Tahir uit eendagkrieket tree.

Hy is wel bekommerd oor Rabada, wat hy die Proteas se kroonjuweel noem, se boullading en lewer ’n pleidooi dat hy ruskans kry, “anders gaan sy liggaam ingee”. Bacher wil ook sien dat Ngidi se fiksheid en kondisionering verbeter.

“Daar het jy reeds ses spelers wat die kern van jou span kan wees. Hulle gaan wel houe vat, dit gaan ’n moeilike paar jaar wees wat voorlê, met ’n reeks in Indië (in September) en die Engelse wat hierheen toer. Maar die span moet toegelaat word om te bou. Laat ’n nuwe era begin, wys vertroue in die groep,” sê Bacher.

“Dit gaan nie in een jaar gebeur nie, dit gaan tyd neem. Maar jy kan oor drie, vier jaar weer met ’n uitstekende groep sit.”