’n Wonderlike honderdtal deur Shakib Al Hasan het Bangladesj Maandag tot sy tweede opskudding by vanjaar se Wêreldbeker-kriekettoernooi gehelp.

Shakib se 124* van 99 balle (16x4) het Bangladesj gehelp om die teiken van 322 in Taunton maklik kaf te draf met 51 balle oor. Die Tiere het met 7 paaltjies gewen.

Shakib en Liton Das (94* van 69 b; 8x4, 4x6) het ’n onoorwonne 189 lopies om die vierde paaltjie aangeteken om die oorwinning te verseker.

Die Wes-Indiese Eilande het vroeër ’n indrukwekkende 321/8 aangeteken.

Shai Hope (96 van 121 balle; 4x4, 1x6) en Evin Lewis (70) het 116 lopies om die tweede paaltjie gevoeg om die Windies 'n baie sterk grondslag gegee.

Die Windies se totaal was enduit net nie genoeg nie.

Bangladesj beleef 'n uitstekende toernooi sover. Hy het nie net verlede naweek met die Proteas afgereken nie, maar het ook Nieu-Seeland skrik gemaak voordat hy die knie moes buig.