In 2015 en 2011 het die Proteas se Wêreldbeker-veldtogte goed begin, maar in trane geëindig. Nou hoop Hashim Amla vir die teenoorgestelde.

“Daar is nog ses wedstryde oor,” het Amla gesê nadat die Proteas Woensdag met ses paaltjies teen Indië in Southampton verloor het. Dit was hul derde agtereenvolgende nederlaag nadat Engeland en Bangladesj Suid-Afrika ook getroef het.

“Ons is in ’n slegte situasie,” sê hy.

“Ons is almal teleurgesteld, daar is geen twyfel daaroor nie. Gelukkig het ons vyf dae af voor die volgende wedstryd.”

Die Proteas moet al ses hul oorblywende wedstryde wen as hulle die halfeindronde wil haal. Hul volgende wedstryd is Maandag teen die Windies, ook in Southampton.

“By die laaste twee Wêreldbeker-toernooie het ons goed begin, maar ongelukkig nie die toernooi gewen nie. Hopelik is dit dié keer andersom.

“Dit is wat ek glo. Dalk is hierdie die een . . . Dalk begin ons swak, maar kry ’n sege in die volgende wedstryd en dan begin ons iets van daar af,” sê Amla.

“Dit gaan nie oor die rit nie, dit gaan oor hoe jy by jou bestemming uitkom.

“Alles lyk nou donker, maar sodra jy ’n bietjie momentum vind, kom dinge weer reg. Ons moet perspektief behou.”

Is dit nou desperate tye?

“Ek weet nie of desperaat die regte woord is nie. Ons is nog in die toernooi. Ses uit ses kry ons nog daar uit.”

Amla maan ook ondersteuners moet onthou hulle het verloor teen twee van die gunstelinge om die toernooi te wen – Engeland en Indië.

“Tog het ons baie middelmatige krieket gespeel. Die boodskap is dat ons beter krieket moet speel.”

Die Proteas het ook nie ’n gebrek aan motivering nie, sê hy. Hulle is steeds positief en hy glo dit het Woensdag gewys.

“Gesprekke oor lyftaal gaan altyd opduik as jy drie wedstryde agtereenvolgens verloor. Ek dink nie daar kan fout gevind word met ons lyftaal vandag nie.”

Die Proteas is tot 227/9 beperk nadat hulle die loot gewen het en besluit het om eerste te kolf. Amla sê 50 meer lopies op daardie blad sou ’n mededingende totaal gewees het.

“Indië verdien krediet, hy het baie goed geboul, veral aan die begin. Die blad het hom gehelp.

“Daar was tekens van ’n vennootskap wat vorm toe Faf du Plessis en Rassie van der Dussen voor die penne was, maar toe gaan hulle kort ná mekaar uit,” sê Amla.

Van daar af kon die Proteas nie weer momentum optel nie.