Dit is vir hom bykans onmoontlik om presies te sê waarom die Protea-kolwers op die spesifieke tye hul paaltjies weggee, sê die kolfafrigter Dale Benkenstein.

Hy glo wel dit gaan oor ’n gebrek aan geduld en die bykomende druk van ’n Wêreldbeker (WB), maar dat ’n groot beurt vir elk van die kolwers net om die draai is. Almal se spelpeil is eintlik goed, sê hy.

“Dit is niks nuuts nie. Ons het ons goeie tye en ons het ons slegte tye,” het Benkenstein gesê nadat die Proteas se wedstryd teen die Wes-Indiese Eilande Maandag in Southampton uitgereën het.

Suid-Afrika het nog nie een van sy vier WB-wedstryde gewen nie.

Daar is nog net drie vyftigtalle – een elk deur Quinton de Kock, Faf du Plessis en Rassie van der Dussen – aangeteken. Nog nie een Proteaspeler het naby ’n honderdtal gekom nie.

“Die boodskap is dat die kolwers beter moet vaar. Op die oomblik het ons nie. Ek voel ons kolf eintlik goed, ons doen dit net nie lank genoeg nie.

“Om jou vinger te plaas op waarom hulle uitgaan op die spesifieke tye wanneer hulle uitgaan, is bykans onmoontlik.

“Daar was kanse vir die kolwers om hulself in te speel en honderdtalle te slaan. Dit gaan oor geduld.

“Ek voel regtig ons is net ’n honderdtal en ’n oorwinning ver om selfvertroue te herwin. En dit is baie belangrik, veral in ’n Wêreldbeker-toernooi.

“Die kolwers voel die bykomende druk. Ons geskiedenis help ook nie. Ons probeer dit hanteer, maar die ouens was ’n bietjie senuweeagtig en dit help nie.”

Hy sê die Proteas het die laaste paar jaar staatgemaak op sy sterk boulaanval. Met Dale Steyn wat huis toe is met ’n skouerbesering en Lungi Ngidi wat die wedstryde teen Indië en die Windies misgeloop het, is daardie voordeel grotendeels geneutraliseer.

“Ons boulaanval is nog altyd ons sterk punt en ongelukkig het ons dit nie in die laaste paar wedstryde gehad nie.

“Met Beuran (Hendricks) wat ingekom het en Lungi wat weer fiks is, is ons naby daaraan om dit terug te kry.”

Om dit bereik volhard die Proteas met ’n verkorte kolflys van slegs ses spesialiskolwers en een of twee veelsydige spelers.

In die onlangse verlede het dit vir hulle gewerk “maar ons kry dit net nie reg op die oomblik nie”.

Die topses moet begin vinger trek.

“Hulle speel hulself in en verloor dan hul paaltjies. Dit is ’n sielkundige ding.

“Jy kan nie net in ’n week se tyd in ’n slegte speler ontaard nie. Ons probeer die ouens herinner aan die kere wat hulle goed gespeel het.

“Dié ouens het al tevore wedstryde gewen. Jy hoef nie Superman te wees nie. Jy moet net so goed speel soos wat jy kan.”

Hy sê op moeilike Engelse blaaie, wanneer dit bewolk is en die nuwe bal swaai, is dit belangrik dat die kolwers in die eerste uur of so van hul beurt “toetskrieket” speel. Kolfwerk raak makliker na die einde van die beurt, so paaltjies in die bank is belangriker as vroeë lopies.

“Maar jy moet steeds in eendagkrieket lopies aanteken,” sê hy. Die balans is dus belangrik.

Benkenstein is ook gepols daaroor dat Ottis Gibson, die hoofafrigter, in elke wedstryd tot dusver veranderinge aan die kolflys gemaak het. De Kock, Du Plessis en Van der Dussen is die enigste kolwers wat tot dusver in al vier wedstryde gespeel het.

Aiden Markram, David Miller en JP Duminy is almal al weens taktiese redes weggelaat, terwyl Hashim Amla die tweede wedstryd misgeloop het as ’n voorsorgmaatreël ná hy teen Engeland met ’n opslagbal teen die kop getref is.

“Jy speel elke wedstryd teen ’n ander span met ander sterk punte en dít is waarom veranderinge gemaak word,” verduidelik Benkenstein.

“Dit is ook nie asof daar regtig ’n kolwer is wat na vore getree en homself onmisbaar gemaak het nie.”