’n Afrikaanse stem klink op tussen die blou see van Indiese krieketondersteuners wat na die Rose Bowl-stadion se hekke stroom om die wedstryd tussen die Proteas en Indië dop te hou.

“Lekker, Proteas! Van die Paarl!” sê Rupert Bailey, een van die min Protea-ondersteuners wat vir dié Wêreldbeker-wedstryd in Southampton opgeruk het. Hy is ook geen leek wat krieket betref nie.

“Ek is eintlik die hoofbaanopsigter by Bolandpark in die Paarl,” sê hy.

“Ek het oorgekom Skotland toe vir vakansie en ek is nou vir hierdie wedstryd hier om my manne te ondersteun.”

Hy word gevleuel deur twee Skotte, wat elk ’n Suid-Afrikaanse vlag om hul skouers dra.

“Hierdie twee manne is van Skotland, hulle is vriende wat ek ontmoet het toe ek jare gelede hier gewoon en gespeel het.

“Hulle is ook vandag Protea-ondersteuners.”

Bailey sê hy het in die vroeë 2000’s vir die Skotse graafskapspan Perthshire County gespeel. Hy het ook in 17 eersterangse wedstryde vir Boland tussen 1999 en 2005 gespeel.

Hier in Southampton is die Paarliet in die minderheid.

“Ek is heeltemal outnumbered soos hulle sê. Ek het nog nie eers iemand gesien wat Afrikaans praat nie, maar hopelik... ek sien daar anderkant staan iemand met ’n Springbok-trui...” en weg is Bailey en sy Skotse vriende, vreemdelinge in die malende massa van Indiese ondersteuners.

Verder af in die tou mense, staan Prakash Upadhyayula, oorspronklik van Hyderabad in Indië, met sy hand om sy vrou, Anusha Dwivedula, se middel. Maar iets aan dié paartjie lyk nie reg nie.

Prakash Upadhyayula en sy vrou, Anusha Dwivedula, by die wedstryd tussen Suid-Afrika en Indië by die Rose Bowl in Southampton. Foto: Tinus van Staden

“Ek is ’n lewenslange Suid-Afrikaanse ondersteuner,” verklaar Prakash trots in sy Protea-hemp. Anusha lag.

“Ek het Suid-Afrika in die Wêreldbeker-toernooi van 1996 begin volg. Hulle het uitstekende spelers gehad. Toe was dit Jonty Rhodes, Daryll Cullinan, Allan Donald en Gary Kirsten,” rammel hy die name af.

“Toe, in die Wêreldbeker van 1999 was dit Lance Klusener, Shaun Pollock en al daardie ouens.”

Wie is sy gunstelingspeler onder die huidige Proteas?

“Hy is ongelukkig nie hier nie... AB de Villiers.

“Maar van die ouens wat hier is, is dit Quinny (de Kock). Hy sal moet goed speel vandag, anders het ons nie ’n kans nie. Want (Dale) Steyn speel nie, so die boulwerk is ’n bietjie swak,” sê Prakash, wat deesdae in Chicago in Amerika woon.

Ongelukkig vir Prakash is De Kock toe ’n uur of wat later vir slegs 10 lopies uitgehaal.

En Anusha? Gee sy nie om dat haar man die “vyand” ondersteun nie?

“Ek gee glad nie om nie,” sê sy.

“Maar ek is ’n trotse Indiese ondersteuner. Ons baklei darem ook nooit daaroor nie.”