Mark Boucher, die gewese Protea-paaltjiewagter, sal meer as geskik wees om die Suid-Afrikaanse krieketspan af te rig.

Jacques Faul, die uitvoerende hoof van die Titans, het enkele jare gelede die kans gewaag om Boucher, wat toe nog geen bewese rekord as afrigter gehad het nie, aan te stel as die Titans se breier.

Sedertdien het die Titans se trofeekas oorgeloop en het Boucher hom in net ’n paar jaar bewys as iemand wat weet hoe om die septer te swaai.

“Sou dit wees dat daar nou ná die Wêreldbeker-toernooi gesoek moet word na ’n nuwe afrigter, glo ek beslis nie hulle sal fouteer deur Mark aan te stel nie,” het Faul Vrydag gesê.

Ottis Gibson se kontrak met Krieket Suid-Afrika verstryk eers einde September, maar die kans is skraal dat hy ná die WB-toernooi in sy pos sal aanbly.

Tog glo Faul dat Boucher nie die enigste sterk kandidaat is waarna gekyk kan word nie.

“Daar is ook Ashwell Prince (’n gewese Protea-kolwer), wat ek dink baie goed vaar by die Cape Cobras en soos Boucher ’n puik rekord as speler het.

Daar is ook Ashwell Prince (’n gewese Protea-kolwer), wat ek dink baie goed vaar by die Cape Cobras en soos Boucher ’n puik rekord as speler het.
Jacques Faul,

“Dan voel ek ook die Lions se nuwe afrigter, Enoch Nkwe, het in die afgelope seisoen gewys waartoe hy in staat is met al die trofeë wat hulle ingepalm het,” sê Faul.

Met Nkwe wat by Geoffrey Toyana oorgeneem het, het die Lions as die meerdagkampioen en ook die T20-kampioen uit die stryd getree en hy was ook die breier van die Jozi Stars, wat as die eerste kampioen van die Mzansi-superliga (MSL) gekroon is.

Boonop het Nkwe ook vroeg in die seisoen die Highveld Strikers afgerig wat die Afrikabeker-T20-reeks gewen het.

Faul reken ook dit kan dalk ’n goeie ding wees indien die spanne in die plaaslike reekse na die beplande 12 vermeerder word.

Heino Kuhn lê die langsteel in.

“Dit is ’n feit dat ons net hier by die Titans met heelwat spelers sit wat goed genoeg is om te speel, maar vir wie daar net nie plek is nie. Ek dink aan Heino Kühn en ook Shaun von Berg, wat enige dag in ’n span kan instap, maar net nie die geleenthede gekry het nie. Hulle is albei van internasionale gehalte,” sê Faul.

“Tog is dit ook so dat van ons internasionale spelers blootstelling wêreldwyd kry. Jy het iemand soos ’n Tabraiz Shamsi wat in die Karibiese T20-liga speel en dan ook in die Indiese Premierliga (IPL). Hulle word dus wyd blootgestel en nie net in Suid-Afrika nie.

“Dit is moeilik om te sê hoekom die SA span sukkel by Wêreldbeker-toernooie. Praat jy met van die ouens, sê hulle hulle voel goed en reg, maar dit wys nie op die veld nie. Dit is regtig iets om oor kop te krap,” sê Faul.