Trent Boult is nie doodseker waarom Nieu-Seeland ’n gewoonte daarvan gemaak het om die Proteas in Wêreldbeker-wedstryde te klop nie, maar hy het tog ’n vae vermoede ...

“Dit is gewoonlik groot wedstryde, so of daar dalk baie druk op hulle is, weet ek nie,” het dié Kiwi-snelbouler Dinsdag in Birmingham gesê.

Nieu-Seeland het Suid-Afrika uit die vorige twee WB-toernooie geboender en kan dít moontlik Woensdag weer doen wanneer die spanne op Edgbaston kragte meet.

“As die leier van die boulaanval, wil ek met vroeë paaltjies nog meer druk op hulle plaas,” sê Boult.

As die leier van die boulaanval, wil ek met vroeë paaltjies nog meer druk op hulle plaas.
Trent Boult

Hy was deel van die Kiwi-span wat die Proteas se harte in die halfeindstryd van 2015 se toernooi gebreek het.

“Daar was uiteraard al ’n paar opwindende WB-wedstryde tussen Nieu-Seeland en Suid-Afrika. Die halfeindstryd van die WB-toernooi in 2015 was een van die beste wedstryde waarin die Kiwi’s nog gespeel het,” sê Boult, wat daardie dag syfers van 2/58 in nege beurte behaal het.

“Dit was ’n lekker wedstryd om deel van te wees.

“Ek onthou net hoe ek gehoop het dat ek nie hoef te gaan kolf nie... Toe die bal oor die grens vlieg vir ses in die doodsnikke, was ons in ekstase.”

Nieu-Seeland het Suid-Afrika al vyf keer geklop in die sewe wedstryde wat hulle voorheen in WB-toernooie gespeel het. Die laaste keer wat die Proteas die Kiwi’s in ’n WB-toernooi kon klop, was 20 jaar gelede – in 1999, op die einste Edgbaston.

Die Proteas se WB-vertoningslys teen die Swartpette staan in skrille kontras met wat gebeur wanneer die spanne in reekse kragte meet. Van die tien reekse waarin die spanne al gewikkel was, het die Proteas agt gewen.

Dit sluit in die vorige reeks tussen die lande, in 2017 in Nieu-Seeland. Boult glo egter nie dít gee vir Suid-Afrika ’n sielkundige voordeel nie.

“Hierdie is ’n groot wedstryd vir hulle, hulle móét wen. Daarteenoor het ons ’n goeie toernooi tot dusver gehad.”

Nieu-Seeland is nog onoorwonne ná drie seges en ’n uitgereënde wedstryd. Ná drie nederlae, ’n uitgereënde wedstryd en ’n oorwinning, moet die Proteas al hul oorblywende wedstryde wen om ’n realistiese kans te behou om die halfeindronde te haal.

“Hulle het ’n interessante begin gehad, so hulle sal honger wees om goed te vertoon.”

CARDIFF, WALES - MAY 24:  Faf du Plessis of South
Faf du Plessis, kaptein van die Proteas. Foto: Gallo

Tog sien Boult die Protea-kolwers nie as kanonvoer nie.

“Ons moet al Suid-Afrika se kolwers respekteer. Hulle het spelers van gehalte aan die begin van hul kolflys,” sê hy.

“Hulle het boonop ’n ervare kaptein (Faf du Plessis) en gevaarlike mokermanne laer af in die orde, so ons sal moet seker maak ons trek gereeld paaltjies plat.”

Hy is selfs gevra of hy bly is hy hoef nie Woensdag na AB de Villiers te boul nie.

“As ’n bouler wil jy altyd na die bestes in die wêreld boul en ek glo AB is steeds een van die bestes, maar ek het nie enige opinies oor Krieket Suid-Afrika se besluite nie.”

Boult ken boonop vir Kagiso Rabada en Chris Morris goed nadat hulle vanjaar saam vir die Delhi Capitals in die Indiese Premierliga gespeel het.

“KG is een van die beste boulers in die wêreld. Die kolwers weet dit en sal hom die nodige agting betoon.”

KG is een van die beste boulers in die wêreld. Die kolwers weet dit en sal hom die nodige agting betoon.
Trent Boult

Boult sê die Edgbaston-blad lyk na ’n goeie een vir kolfwerk.

“Hierdie gaan die grootste uitdaging wees wat ons nog moes trotseer. Ons het tot dusver op gunstige blaaie gespeel.”

’n Bewolkte dag word ook vir Birmingham voorspel, maar die kans op reën ná 11:00 is minder as 20%.