Selde was die geluksgodin al só teen ’n krieketspan soos wat die geval met Nieu-Seeland in Sondag se Wêreldbeker-eindstryd teen Engeland op Lord’s was.

Die Engelse het die wedstryd gewen omdat hulle meer grenshoue as die Kiwi’s geslaan het. Dít nadat die wedstryd én ’n superboulbeurt gelykop geëindig het.

Kane Williamson, die Swartpette se indrukwekkende kaptein, wou geen verskonings maak nie. Hy wou ook nie sê sy span was ongelukkig nie, maar erken dit is frustrerend wanneer “onbeheerbare dinge” teen jou tel.

“Ek is eenvoudig platgeslaan. Jy weet, die ouens het soveel harde werk ingesit om hierdie geleentheid te kry, om hierheen te kom en in nog ’n Wêreldbeker-eindstryd te speel en dan boonop alles te doen wat ons kon.

“Deur die loop van die veldtog het ek baie keer gepraat oor die ‘onbeheerbare’ dinge. En vandag was daar weer ’n paar daarvan en dit is moeilik om te sluk,” sê Williamson.

Daar was ’n stukkie veldwerk in die laaste boulbeurt, toe ’n bal wat ingegooi is van Ben Stokes se kolf af grens toe geskiet het en die Engelse ses lopies daarvoor gekry het, wat die Kiwi’s se swak geluk opgesom het. ’n Paar beslissings het die Swartpette ook benadeel, soos toe Marais Erasmus verkeerdelik vir Ross Taylor uitgegee het.

“Ek wil niks van Engeland se veldtog wegneem nie. Nie net hierdie wedstryd nie, maar deurgaans. Hulle is welverdiende wenners,” sê Williamson.

“Enige span wat vandag sou wen, sou waarskynlik weggestap het en ’n bietjie gelukkig voel. Die manier hoe ons gelykop gespeel het in gewone tyd en toe weer ná ses balle. Dis seker maar een van daardie dinge.”

Die grenshou-telling was 24-16 in Engeland se guns. Voel Williamson dit is ’n regverdige manier om ’n eindstryd se wenner te bepaal?

“Ek neem aan jy het nooit gedink jy sou daardie vraag hoef te vra nie en ek het nooit gedink ek sal dit moet beantwoord nie,” het hy met ’n glimlag gesê.

“Terwyl die emosies nog baie rou is, is dit ’n bitter pil om te sluk. Wanneer twee spanne baie hard gewerk het om in hierdie situasie te kom en ná twee pogings om hulle van mekaar te skei, is daar steeds nie ’n wenner nie. Dit is bloot wat dit is. Die reëls is van die begin af daar.

“Niemand het seker gedink dit sal daarop neerkom nie. Maar dit was ’n ongelooflike krieketwedstryd. Almal het dit geniet en ek dink (die ondersteuners) wil meer hê.”

Hy glo dié eindstryd sou die aansien van die sport oor die wêreld heen ’n aansienlike hupstoot gee.

“Almal was mal daaroor. Die Engelse dalk ’n bietjie meer as ons,” skerts hy.

“Dit was ’n briljante krieketwedstryd. Ons speel krieket om die spel te groei en om meer kykers te lok.”

Ondanks alles wat teen hulle uitgewerk het, maak Williamson geen verskonings nie.

“Jy kan seker lag of huil, nie waar nie? Daar is nie woede nie. Daar is baie teleurstelling. Die ouens voel dit. Dit kom dalk neer op dít wat buite ons beheer is. Soms val die kaarte net nie in jou guns nie.”

Vir sy uitstaande kapteinskap en die 578 lopies wat hy in die toernooi aangeteken het, wat die vierde meeste is, is Williamson as die Speler van die Toernooi aangewys. Dít, sê hy, is ’n bittersoet troosprys.

“ ’n Individuele vertoning is slegs betekenisvol as dit oor die groter prentjie gaan – wat die span is.”