Druk? Beslis ja, selfs hul eie familielede plaas druk op die Proteas voor die Wêreldbeker-kriekettoernooi.

Maar hy maak seker die span het die regte ingesteldheid en benadering om dit te hanteer, sê die kaptein Faf du Plessis.

Faf du Plessis bestee baie tyd daaraan om die Proteas se geestelike ingesteldheid reg te kry. Foto: Gallo Images

“Daar gaan altyd druk wees. Dit kom van die media, van die ondersteuners, selfs van jou eie familie af,” sê Du Plessis.

Onder sy leiding het die Proteas langer as ’n jaar gelede reeds begin om geestelik vir die Wêreldbeker-toernooi voor te berei. Hulle weet daar is ’n opvatting dat Suid-Afrika onder druk vou by WB-toernooie. Dat hulle choke. Maar daardie opvatting moenie ’n invloed op hulle hê nie.

“Ek voel ek praat baie meer oor die geestelike sy van die spel as wat vorige kapteins het,” sê hy.

Du Plessis is nie naïef nie, hy weet hulle gaan klokslag oor hul kwesbaarheid onder druk gepols word.

“Ek probeer dit nie onder die mat invee nie. Ek weet dít is die tipe vrae wat elke speler by elke mediakonferensie gaan kry.”

Dit is vir hom belangrik dat die spelers weet hoe om sulke druk te hanteer. Hy het met hulle gewerk om deur visualisering positiewe energie te kweek, om die vrees van mislukking af te skud.

“Ons plaas ook ’n groot premie daarop om in die oomblik te bly en nie ag te slaan op dít wat die media sê nie, of om te ver in die toekoms te dink nie, of te dink aan mense wat van choking praat nie.

“Mense haal altyd daardie kwessie op, dit is soos ’n spieël wat hulle voor ons ophou, maar dit is nie van toepassing op ons nie.”

In hul strewe om die spoke van die verlede te verjaag, het die Proteas nie nét gepraat nie. Hulle het daad by die woord gevoeg.

“Dit gaan ook oor die speelstyl wat ek en Ottis (Gibson) tot uitvoering probeer bring het. Daar is ’n rede waarom ons (in sommige wedstryde) vir die kolwers aangesê het om uit te gaan en vrylik te speel.

“Dit is sodat hulle ontslae kon raak van die vrees vir mislukking. Want by ’n WB is die vrees vir mislukking prominent. Jy is bang jy laat jou self en jou spanmaats en jou land in die steek.”

Du Plessis sê hy het ook besef dat ’n power WB nie die einde van die wêreld beteken nie.

“Jy is hartgebroke, ja. Maar as dit die absolute ergste scenario is, gaan die lewe steeds aan. Ek het vir die jonger ouens gesê hulle moet net ontspan, want al verloor jy, gaan die lewe voort.”

Volgens die kaptein help dit ook dat daar verskeie spelers is wat vir die eerste keer in ’n WB gaan speel. Spelers soos Kagiso Rabada, Lungi Ngidi, Aiden Markram, Rassie van der Dussen, Tabraiz Shamsi, Andile Phehlukwayo, Dwaine Pretorius en Chris Morris dra geen letsels van vorige WB-toernooie nie.

“Ons het nou al vir ’n jaar en ’n half, twee jaar, oor al hierdie goed gepraat. Ek glo dit sal help dat wanneer die druk kom, ons op ons beste sal wees.

“Hoe ons daardie geestelike uitdagings trotseer, gaan bepaal hoe suksesvol ons gaan wees.”